Romeine 5:12-21
‘Dus: Net soos die sonde deur die dood geheers het, sal ook die genade deur die regverdiging heers en tot die ewige lewe lei deur Jesus Christus, ons Here.’
SOLA GRATIA – GENADE ALLEEN
In die Bybel vertel Jesus ’n gelykenis oor twee mense waarin jy sien wat genade is en hoe jy dit ontvang. ’n Bekende gelykenis. Twee manne gaan tempel toe om te bid. Die een man is ’n Fariseër. Iemand wat baie goed weet wat in die wette van Moses staan en hy leef daarvolgens. Hy soek ’n plek waar die mense hom goed kan sien en dan bid hy: ‘o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie –rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.’ Die Fariseër is trots op homself. Hy vertel vir die Here hoe goed hy is. Hy het nie God se genade en vergewing nodig nie. Agter op ’n plek staan die tollenaar. Hy werk vir die Romeine. Om die rede word hy deur die meeste mense gehaat. Die meeste tollenaars het op oneerlike maniere ryk geword. Hierdie tollenaar het berou. Hy waag dit nie eers om met sy kop regop te loop nie. Hy wil nie opkyk na die hemel nie. Hy weet dat hy God se straf verdien. Hy slaan op sy bors en sê: ‘o God, wees my sondaar, genadig!’ ’n Kort gebed, wat verhoor word. Die tollenaar het God se genade nodig, en hy kry dit. Die Fariseër kry niks, omdat hy dink dat hy God se genade nie nodig het nie. ’n Reusagtige verskil tussen twee persone. Genade – Dit beteken jy verdien straf, maar dit word heeltemal van jou weggevat. Jy verdien niks nie, maar jy kry alles.
Deur een mens die sonde
Om te weet waarvoor genade nodig is, moet ons verstaan dat ons in sonde leef. Deur een mens, Adam, het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood. Sonde en die effek daarvan sien ons oraloor. Deur die sonde het ons skuld by God. Deur die mag van die sonde lyk die wêreld soos wat dit lyk – diefstal, plaasmoorde, egskeidings. Die gevolg van die sonde – siekte, gebreke en dood.
Deur Jesus Christus ’n oorvloed van genade
Ons weet ons leef in sonde, maar ons sit nie vas daaraan nie. In genade sien die Here ons aan. Oor alle mens skyn sy algemene genade. Mense mag leef, eet en drink. Mense mag geniet van die lewe. Ons as uitverkore kinders, mag geniet van God se besondere genade. Hy gee vir ons sy Seun Jesus Christus. Deur genade alleen mag ons saam met God leef tot in ewigheid.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com