Skip to content
Menu

Lees: Jesaja 43:1-7 Teksvers: 1b Sing: Ps. 149:1,2,3,4; Ps. 25:2; Ps. 128:4; Sb. 16-1:1,6,7; Ps. 146:1,8; Ps. 93:1,2,3,4.

‘Maar nou, so sê die Here, jou Skepper, Jakob, die Een wat jou gevorm het, Israel, “moenie bang wees nie, want Ek het jou losgekoop, Ek het jou op jou naam geroep – aan My behoort jy.’

GEROEP DEUR DIE VERBONDSGOD

Jesaja profeteer in ’n tyd wat die mens deur die sonde, ver verwyder is van God. Hierdie profesie word gespreek, in ’n tyd wat dit nie goed gaan met Israel nie. Israel is weggevoer in ballingskap. Dit is nou die noordelike Tienstammeryk. Hulle mense is verstrooi regoor die bewoonde wêreld – Maar die Here vergeet nie sy kinders nie. Teenoor die donker hede in Israel, stel die profeet ‘n helder toekoms. Vir hierdie sondige volk, word die belofte van verlossing bevestig. Hierby sluit ons aan vanoggend. Ons as sondige mense wat deel in God se genade. Deur sy seun Jesus Christus is ons as sy kinders ingelyf. Die beloftes wat die Here deur Jesaja maak. Dit hoor ons vanoggend hier. In die doop en in die belydenis.

Die roep van die Verbondsgod

Wie se stem hoor ons hier? Wie roep? Die Almagtige God is hier aan die Woord. Op verskillende maniere word Hy genoem. Word sy grootheid en almag aan ons getoon. Ons hoor die stem van Hom wat roep: So sê die Here, jou Skepper, jou Formeerder (vers 1), die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland, jou verlosser (vers 3). Die roep gaan uit van die Almagtige God. Hy wat met ons ’n verbond sluit. Sy roep klink duidelik: ‘Ek het jou by jou Naam geroep; jy is Myne! Jy behoort aan niemand anders nie. Sy roep is duidelik.

‘U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef….My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien…’ (Psalm 139)

Die noem van die verbondskind

Die Here roep jou by jou naam en Hy noem jou ná sy Naam. Persoonlik roep Hy jou en Hy eien jou as sy eie – Eiendom van God. Gekoop deur Jesus Christus. So deel ons in sy verbond. Met ons geloof voorouers het Hy dit opgerig en vandag deel ons daarin. Daarvan is die doop ’n teken en ‘n seël. Die beloftes van die Here word bevestig met verbondskinders wat gebore is, wat belydenis van hulle geloof doen.

‘Toe het die wat die Here vrees, met mekaar gespreek; en die Here het dit opgemerk en gehoor, en daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die Here vrees, en sy Naam eer.’
(Maleagi 3:16)

Gesprekspunte

  1. Wat beteken die woorde uit vers 4  – ‘omdat jy kosbaar is in my oë, geëer is, omdat Ek die Een is wat jou liefhet’ vir jou?
  2. Hoe sal jy die werk van God (geskep, gevorm, gemaak) in jou lewe beskryf?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com