Genesis 17:15-22; 18:9-15 & 21:1-7
Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom het Sara gelag en dink sy, ‘Sal ek werklik nog geboorte kan gee terwyl ek al oud is?’ Is enigiets te wonderbaarlik vir die Here? Op die vasgestelde tyd wanneer die seisoen draai, sal Ek na jou toe terugkom, en dan sal Sara ‘n seun hê.”
DIE ONTMOONTLIKE MOONTLIKE –
Ons vreugde gegrond in die HERE
Ons as mense verlang daarna om geseën te word. Dat daar goeie woorde oor jou gespreek word. Dat jy die seën van die Here in jou lewe mag gebeur. Dat die weg wat jy wandel goed mag wees. Dat jy die goedheid van God elke dag mag ervaar. Die lewe wat Hy bestem leef. In die gedeeltes oor Abraham, kom die seën van die Here, keer op keer terug. Oor Sara sê die Here – ‘Ek sal haar seën, sodat sy tot nasies sal word; konings van volke sal uit haar voortkom.’ ’n Man en vrou wat al ’n hoë leeftyd bereik het. Die lewe het hulle al geleef – wat is daar nog vir hulle om te verwag. Hulle hoor hierdie beloftes. Oor hulle word hierdie seëninge van die Here uitgespreek. Hulle sal ’n kind kry. God kan doen, wat menslik onmoontlik is. God bring ware seën en vreugde in die huise en harte van sy kinders. Dit sien ons by Abraham en Sara. 25 jaar nadat die Here die belofte gemaak het, gebeur dit – ‘En die Here het Sara besoek soos Hy beloof het; en die Here het aan Sara gedoen soos Hy gespreek het.’ Die troue Verbondsgod is die grond van ons geluk.
’n Lag vanuit wanhoop en ongeloof
Aan Abraham het die Here ’n groot nageslag belowe. Maar deur die loop van Abraham se lewe, lyk dit vir hom of die Here se beloftes nie waar gaan word nie. Sy vrou Sara is onvrugbaar. Hulle is al albei oud. Dat hulle nog ’n kind kan kry is menslik onmoontlik. Sulke dinge gebeur nie. Daarom lag hulle as hulle die woorde van die Here hoor.
’n Lag vanuit dankbaarheid en geloof
By God is die onmoontlike moontlik. Sara kry ’n seun. Hierdie kind moet hulle Isak noem. Isak beteken lag. Sy naam moet hulle herinner aan hulle ongeloof, dat hulle nie weer hulle vertroue in die Here verloor nie. Ook wys Isak na Jesus Christus toe. Want uit sy nageslag sal ’n Koning gebore word. Hy wat die Ryk van vrede en vreugde saam met Hom bring. Hy wat uit ‘n maagd gebore is. Is enigiets te wonderbaarlik vir die HERE? Verseker nie!
GESPREKSPUNTE
1. Hoekom vind Isak se geboorte so laat in die lewe van Abraham en Sara plaas? Wat is die betekenis hiervan? Hoe staan dit binne die konteks van die evangelie?
2. Wat openbaar God oor Homself in vers 13-14? Wat kan ons hieruit leer oor hoe Hy in ‘n verhouding met ons as mense leef?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com