Skip to content
Menu

Lees: 1 Petrus 1:1-12, Dordtse Leerreëls Teksvers: 5:15 Sing: Ps. 145:1,8,10; Ps. 33:6; Ps. 33:11; Ps. 118:12,13,14.

‘…ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing wat gereed is om in die eindtyd geopenbaar te word.’

DIE LEER VOLHARDING VAN DIE HEILIGES

Petrus het deur sy lewe rondreise gemaak. Nadat Jesus gekruisig is het die vervolging in Jerusalem toegeneem. Almal wat in Christus glo moes vlug. So het dit gebeur dat die evangelie teen ‘n rasende tempo verkondig is. Orals in die bekende wêreld is daar vertel van Jesus. Van sy dade en verlossing. Mense het tot geloof gekom en hulle geloof het hulle vreemdelinge gemaak. Deurdat hulle in Jesus glo word hulle vervreemd van die omgewings waarin hulle leef en die ou godsdienstige praktyke wat hulle gevolg het. Petrus rig sy brief aan dié mense. Hy noem die lesers vreemdelinge, maar nie net vreemdelinge nie. Hy praat van uitverkore vreemdelinge. Om vreemdeling te wees is nie maklik nie. Baie mense het teruggeval in hulle ou gewoontes. Het die geloof prysgegee. Daarom plaas die Here ons fokus hier op die volharding in die geloof. Want ook ons is vreemdelinge op hierdie aarde. Vandag moet ons staande bly. Daarvoor gee die Here vir ons hierdie kosbare leer in sy Woord.

Deur die Here geopenbaar

Ons volharding is in die hande van die Here. Ons erfenis word in die hemele deur Hom bewaar en Hy doen dit met sy krag. Die Here openbaar dit vir ons in sy Woord. Die woorde uit Petrus het ons gelees. Hierdie boodskap word by ons ingeprent. Dit doen die Here tot eer van sy naam en tot troos vir die gelowiges.

Deur die vyand misbruik

Deur die vyande van die Here word hierdie leer kragtig teengestaan. Daarom sal christene vreemdelinge op hierdie aarde wees. Die sondige natuur verstaan dit nie, die Satan haat dit, die wêreld bespot dit, onkundiges misbruik dit en dwaalgeeste bestry dit.

Deur die kerk geliefd

Die bruid van Christus, sy kerk, het die leer van die volharding lief. Daarom sal sy hierdie leer verdedig. Dit waaroor sy beskik is baie kosbaarder as goud wat vergaan. Die Here sal haar hierby help. Ook dit gebeur deur sy krag. Die kerk moet haar roeping verstaan en die Here sal haar lei dat sy dit so sal doen.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com