Lees: Genesis 25:19-26, Obadja. Teksvers: 23 Sing: Ps. 42:1,5,7; Ps. 69:1,3,8; Sb. 1-1:1,2; Sb. 1-1:7; Ps. 99:1,2,3.
“Twee nasies is in jou moederskoot, en twee volke – uit jou liggaam sal hulle uitmekaar gaan. Die een volk sal sterker wees as die ander volk, en die oudste sal die jongste dien.”
AS GOD VIR ONS IS – WIE SAL TEEN ONS WEES
Rebekka die vrou van Isak het swanger geword. In haar woed ’n broederstryd. Nog voordat hulle gebore is, het die kinders teen mekaar gestoot binne-in haar. Dit was so erg dat sy gesê het – As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Die Here se antwoord op haar vraag. Twee nasies is in jou skoot. Twee volke wat met mekaar in stryd is en sal kom. Die een sal die vir die saak van die Here staan. Die ander nie. Tussen die twee sal die stryd tussen die saad van die vrou en die saad van die slang woed. Die stryd wat na die sondeval begin het – In Jakob en Esau gaan hierdie stryd voort. Broederstryd sal dit wees in die kerk van die Here. Selfs in die Nuwe Testament sien ons die stryd. Toe Jesus gebore is, was koning Herodes aan bewind. Hy was ’n Edomiet. Uit die nageslag van Esau het hy gekom. Hy het al die jong seuntjies uitgemoor toe hy hoor van die nuwe koning wat gebore is.
’n Magtige vyand
Die profeet Obadja profeteer oor die broederstryd tussen Esau en Jakob – tussen hulle nageslagte: Israel en Edom. Israel is die Verbondsvolk uit wie die Messias gebore moes word. Edom het die wil van die duiwel uitgevoer. Sy broersvolk het hy in tye van nood alleen gelos. Hy het hom verheug toe Israel in ballingskap weggevoer is. Daarom word die geslag van Esau die antichris genoem. Hulle is teenstanders van Jesus Christus.
‘n Almagtige Koning
Ons het ’n Almagtige Koning wat die duiwel uit die hemel neergewerp het. Nou kan die duiwel ons nie meer vir hom opeis nie, want Jesus Christus het vir ons sondes betaal. Op die aarde gaan hy wel verwoed tekere. Hy doen alles in sy mag om die kerk van Christus te vernietig. Maar die Here rus ons toe in dié stryd. Hy vul ons met die vuur van die Heilige Gees sodat ons die stryd kragtig kan voortsit.
GESPREKSPUNTE
- Hoe ervaar jy die werke van ons Almagtige Koning Jesus Christus in jou lewe?
- Watter bemoediging ontvang jy uit so ‘n profesie vanuit die Ou Testament?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com