Nehemia 5
Prediker 4:1-6
Verder het ek gesê: “Wat julle doen, is nie goed nie. Moet julle nie met ontsag vir ons God optree om die gespot van die nasies, ons vyande, te vermy nie?
VRYGEWIG IN LIEFDE
In Nehemia 5 word ’n aktuele onderwerp aangespreek. Dit gaan in hierdie hoofstuk oor geld. Oor dit wat mense besit. Die eiendomme wat hulle het. Ons lees van die rykes en die armes en dat daar geld geleen word. Dat eiendomme verpand word. Almal terme wat vandag in ons ekonomie klink. Deur die jare het daar nog nie soveel verander nie. Ook nie tussen ryk en arm nie. Nog altyd is daar hulle wat ryk is, en ook hulle wat arm is. Die een het baie, die ander het min. Hierdie tema word in die Bybel uitvoerig bespreek. Oor ons en ons aardse besittings. Heelwat van die gelykenisse wat Jesus vertel het, het betrekking hierop. Dit is nie omdat Jesus geld wou gehad nie. Die Here soek jou hart, nie jou geld nie. Maar omdat die manier hoe daar met geld omgegaan word, baie van jou geestelike toestand sê. Nehemia sluit vanoggend hierby aan. In Jerusalem het hulle dit verkeerd gedoen. Hulle het daar ’n wêreldse ekonomie bedryf, in plaas van ’n Goddelike.
Die probleem – selfverryking (1-5)
Ons hoor die klag van die armes – die trane van die onderdruktes. Jerusalem is al vir ‘n tyd in hongersnood. Die rykes in die stad maak hiervan gebruik. Hulle leen geld aan die arm mense en verdien hiermee ’n klomp rente, hulle neem selfs hulle eiendomme en kinders in beslag. Hulle word ryk van die arm mense se swaarkry.
Die hervorming – ontsag vir God (6-13)
Dit is onaanvaarbaar. Binne die drukte waarin Jerusalem verkeer gee Nehemia aandag aan hierdie saak. Hy is woedend toe hy hoor wat gebeur. Die sosiale onreg is verskriklik. Dit kom nie ooreen met die wil van die Here nie. Die rykes oortree die gebod van die Here. Hervorming is nodig.
Die opdrag – wees vrygewig (14-19)
Daar word aan die armes teruggegee. Harde harte word sag. Die wil van die Here word uitgevoer en die orde word in Jerusalem herstel. Die rykes besef hulle handel verkeerd. Die christelike opdrag: Wees vrygewig. Alles wat jy het kom van die Here af. Gebruik elke deel daarvan tot opbou van sy koninkryk.
GESPREKSPUNTE
1. Wat leer ons oor Nehemia se posisie in hierdie gedeelte en die manier hoe hy sy roeping uitleef?
2. Hoe kan jy sosiale ongeregtigheid in jou omgewing hanteer?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com