Lees: Johannes 3:1-21 & Dordtse Leereëls 2:5,6 Teksverse: 14,15 Sing: Ps. 146-1:1,3; Ps. 81-1:1,11,12; Sb. 8-1:1,2; Ps. 146-1:6,8.
‘En net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die Mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe sal hê.’
DIE BELOFTE VAN DIE EVANGELIE
Voordat ons Here Jesus in die hemel opgevaar het, het Hy ‘n laaste opdrag aan sy dissipels gegee. ‘n Bekende opdrag, wat gereeld aangehaal word. In die Mattheus evangelie staan dit so – ‘Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.’ (Mat 28:19) In die Markus evangelie word daar nog ‘n interessante sin bygevoeg – ‘Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.’ (Mark 16:16) Op hierdie gedeelte plaas die Dordtse Leerreëls in die artikels wat ons saamgelees het die aandag. Jesus Christus se offer is voldoende. Mense moet sy evangelie hoor. Die beloftes wat daarin vir ons is. Die wêreld moet hoor van die Verlosser. Hulle moet weet wie die Koning is, en waar daar ware genesing te vinde is. Hiervoor moet die belofte van die evangelie aan die hele wêreld verkondig word.
Die inhoud van die belofte
Die Bybel is vol beloftes van die Here. Al hierdie beloftes wys na Jesus Christus toe. Die belofte van die evangelie is dit: Elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, sal nie verlore gaan nie, maar sal die ewige lewe hê. Dit vertel Jesus vir Nikodemus in Johannes 3.
Die verkondiging van die belofte
Die inhoud van die belofte moet verkondig word. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense bekend gestel word. Daarin het elkeen van ons persoonlik ‘n roeping. In die amp van gelowige verkondig ons die Here se Naam waar ons gaan. Konkreet beteken dit ons roep mense na Hom toe, na sy kerk toe.
Die reaksie op die belofte
Baie mense hoor die evangelie maar hulle bekeer en glo nie. Sulke mense sterf uiteindelik in ongeloof. Dat hulle verlore gaan is hulle eie skuld. Die belofte van die evangelie verwerp hulle. Hulle is vyandig teenoor die Here.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com