Skip to content
Menu

Nehemia 6

‘Die muur is binne twee-en-vyftig dae voltooi, op die vyf-en-twintigste dag van Elul. Toe al ons vyande dit hoor, het al die nasies rondom ons bang geword, en ons vyande het in hulle oë baie laag gedaal. Hulle het besef dat hierdie werk met God se bystand gedoen is.’

GOD VOLTOOI SY WERK

Om met ’n saak te begin is een ding. Om dit te voltooi is ’n ander. As ’n nuwe projek begin word, is mens vuur en vlam. Die wil is daar en dinge gebeur, maar soos wat die tyd verloop, word die wil kleiner. Kom daar probleme dan word die projek al langer en langer uitgerek. Hoe meer tyd verloop, hoe moeiliker word dit om dit klaar te maak. Om iets te begin is maklik. Om iets klaar te maak is moeilik. In Jerusalem word die bouwerk voltooi. Dit gebeur nie sonder laaste struwelinge nie. In die slotfase probeer die vyande van die Here, met mag en mening om die voltooiing te keer. Nehemia en die volk volhard. Dit omdat die werk wat daar gebeur, nie menslike werk is nie, maar Goddelik. God self is hier aan die werk. Die koninkrykswerk wat ons vandag doen is ’n deurlopende taak. Elke dag is ons daarmee besig. Elke dag leef ons in die geloof. Doen ons geloofsdade. Dit wat reg is volgens die wil van die Here. Daarin moet ons volhard. Die enigste rede hoekom dit moontlik is, is omdat dit nie ons eie werke is nie, maar die van die Here.

Ons vertroue op God

Die muur word in Jerusalem voltooi, maar nie sonder probleme nie. Die onreg tussen ryk en arm aan die binnekant is reggestel. Nou sien ons dat die vyande aangaan met hulle boosheid. Hulle beraam drie planne om vir Nehemia uit die prentjie te haal. Nehemia vertrou op God. Sy fokus is skerp ingestel op die Here se wil en deur al die verleidings word hy en die volk nie afgelei nie.

Die vyand se erkenning van God

In 52 dae is die muur herstel. Die vyande van die Jode sien dit. Hulle erken dat mense dit nie alleen kan doen nie. Hulle erken dat hierdie werk deur God gedoen is. Geen mens kan die Here ontken nie. Dit is besonder – dat mense wat nie in die Here glo nie, erken dat hier iets Goddelik gebeur. Vir ons gee dit troos en bevestiging in die geloof. Dit is ’n groot voorreg om deel te wees van God se ryk. Ons hoef Hom nie te erken nie, ons ken Hom as ons God en Vader.

GESPREKSPUNTE
1. Nehemia het alles biddend aangepak. In Nehemia 6:14 sien ons dat hy weer bid. Hoe hou 1 Tess. 5:23,24 verband met Nehemia en vir elkeen wat getrou wil wees aan sy roeping?

2. Wat leer jy in die gedeelte oor die volharding in die geloof? Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com