Lees: Hebreërs 2:5-18 en Genesis 1:26-31 Belydenis: Dordtse Leerreëls 3/4:1 Teksverse: 6-8 Sing: Ps. 133-1:1,2; Ps. 8-1:3,4,5; Sb. 10-1:1,2,3,4; Ps. 97-1:1,6,7.
Maar iewers het iemand dit uitdruklik bevestig en gesê: “Wat is die mens dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U na hom omsien? U het hom vir ‘n kort rukkie minder as engele gemaak, en hom met heerlikheid en eer gekroon; U het alles onder sy voete gestel.”
GESKAPE NA DIE BEELD VAN GOD
Hoe wonderlik is dit nie as daar ‘n baba gebore word nie? As ‘n nuwe mens tot lewe kom. Vandag kan ons die hele proses al so mooi noukeurig volg. Die twee selle wat bymekaar kom en wat dan vervolgens groei. Al die organe en liggaamsdele wat al vinnig ontwikkel. Die klein vingertjies en toontjies. Alles perfek. As die baba gebore word sien ‘n mens hoe goed die Here die mens geskape het. Soos wat kinders opgroei sien jy deurlopend hoe uniek en besonder elke mens is. Hoe die Here ons na sy beeld geskep het. Dit is werklik die werk van die Here. Toe die Here die mens na sy beeld geskape het was daar nie lyding nie. Eers na die sondeval het dit begin. Deur die doen en late van die mens is dit hier. Dit is vandag sigbaar. In die konteks lees ons Hebreërs 2 en ons belydenis.
Goed geskape
Adam en Eva is in die begin na God se beeld geskape. Die beeld van God bestaan uit kennis, geregtigheid en heiligheid. Oor die drie dinge het die mens beskik. So was hy beeld van God. As profeet het die mens met sy verstand God reg geken. As koning het hy met geregtigheid oor die aarde geregeer. As priester het hy met ‘n hart vol liefde vir God geleef.
Moedswillig gebreek
God het die proefgebod vir Adam en Eva gegee. God het die mens beproef of hulle God vrywillig bo alles sal liefhê en hulle naaste soos hulleself. Hierdie gebod het hulle gebreek. Die mens wou self onderskeid tref tussen wat reg is en verkeerd. So is die teendeel bereik. Oor die mens het gekom – blindheid, verskriklike duisternis, boosheid, rebellie en hardheid van sy wil.
Vrywillig herstel
In die plek van die eerste Adam, tree Christus as die laaste Adam op. Deur die sonde is die beeld van God verloor. Dit kom maak Christus reg. Hy vernuwe die uitverkore kinders van die Here. Hy maak hulle weer beeld van God. So ontvang ons weer ware kennis, geregtigheid en heiligheid.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com