Skip to content
Menu

Lees: Nehemia 8 Teks: 11 Sing: Ps 42-1:1,5,7; Sb 12-2:4,5; Ps 43-1:1,3; Ps 47-1:1,4; Ps 48-1:1,4,5.

Esra het vir hulle gesê: “Gaan eet feestelike kos en drink soet drank. Deel ook uit aan hulle vir wie niks voorberei is nie, want hierdie dag is heilig vir ons Heer. Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug.”

BLYDSKAP IN DIE HERE

Fees vier is vir ons ’n bekende verskynsel. Ons vier fees as iemand verjaar. Dit is fees as daar getrou word. Ons vier fees omdat dit Here dit bewerk het. In ons kerklike kalender kom feeste gereeld voor. Kersfees, Paasfees en Hemelvaartsdag. Dan herdenk ons die geboorte van Christus. Sy lydenstyd. Hoe Hy opgevaar het na die hemel. Die hoogtepunt van ons feesvieringe as gemeente – Elke Sondag hier in die kerk. Elke Sondag vier ons die opstanding van Jesus Christus. ’n Weeklikse fees. Op die Sondagoggend het Hy uit die dood opgestaan. Daaraan dink ons elke Sondag. Ons het rede om fees te vier. Om opgewek en vrolik te wees. Om bly te wees in die Here. Die Israeliete ontdek dit in Nehemia se tyd. Toe hulle die wet lees. Toe sien hulle wat die Here vir hulle bestem. Toe gaan hulle oë oop.

Blydskap in verlossing

In Jerusalem is die muur voltooi. Rus en vrede het tot die stad teruggekeer, maar die hervorming gaan voort. Daar word ’n erediens gereël. Esra die priester is die voorganger. Die volk moet weer die Woord van die Here hoor. Vir jare het dit nie gebeur nie. Elke siel moet hoor dat vreugde net te vinde is deur verlossing in die Here.

Blydskap in dankbaarheid

Die Loofhuttefees is die fees van die intog. ’n Fees van dankbaarheid. Die volk word opgeroep om hierdie fees te herstel. Daar moet weer vir die Here geoffer word. Sy wil moet weer geleef word in die land. Op verlossing volg dankbaarheid. Konkreet beteken dit om diensbaar vir die Here te wees. Daarin vind gelowiges vreugde.

Blydskap in vrygewigheid

Die volk vier fees. Die Here is ’n God van oorvloed en goedheid. Die Here toon aan hoe daar fees gevier word. Almal deel hierin. Hulle wat niks het nie, moet voorsien word deur hulle wat baie het – ‘Gaan, eet lekker spys en drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie daar niks berei is nie.’ Blydskap kry jy by die Here, nie in aardse besittings nie.

GESPREKSPUNTE

1. Waarom is dit so belangrik om ‘n ontvanklike hart te hê en hoe kan jy jouself voorberei om die verkondiging van God se Woord te hoor?

2. Hoekom is dit so belangrik om die daaglikse studie van God se Woord as die primêre fokus in ons verhouding met die Here te hou?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com