Lees: Mattheus 13:1-9 & 18-23 Belydenis: Dordtse Leerreëls 3/4: 9,10 Teksvers: 9 Sing: Ps 122-1:1,2; Ps 92-1:3,4,6; Ps 73-1:10,12; Sb 18-7:1,3,12
‘Laat dié wat ore het, luister!’
DIE SAAIER EN DIE GROND
Waaroor gaan hierdie gelykenis? Dit is bekend. Dit is die gelykenis van die saaier. Die saaier is natuurlik God. Hy saai sy evangelie oor die hele wêreld. Vir ‘n saaiboer sal dit vreemd klink. Want wie strooi sy kosbare saad oraloor? Dit is tog jammer as soveel kosbare saad, verlore gaan. Maar so werk God. Oraloor laat Hy sy evangelie hoor. Of mense nou luister of nie. In die kerk, by die skool, op die radio, agter die rekenaar of op die televisie. Baie maniere gebruik Hy deesdae om dit te doen. Die saaier saai. Wat is ons plek in die gelykenis? Meestal is die antwoord: ons moet ook saai. Dit is so, ons is instrumente in die hande van die Here, waardeur Hy werk. Maar dit is nie ons plek in hierdie gelykenis nie. Want ons plek in die gelykenis is die grond. Die grond, ons, word aangespreek. Wat doen die grond met die kosbare saad? Daarom plaas ons vanoggend nie die fokus op die verkondiging van die Woord nie, maar op dit ontvang van die Woord. In vers 9 staan daar: “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!”
Die Saaier
In die tyd toe Jesus op die aarde was het Hy deur die land Israel getrek. Op meerdere plekke het Hy wonders gedoen en die evangelie verkondig. Van oraloor het mense gekom om Jesus te hoor. Dag in dag uit het Hy gepreek. Maar hoeveel van hierdie mense het tot geloof gekom? Die Here is die saaier, maar nie almal wat die Woord hoor, word gered nie. Daar is baie wat hulle ore toedruk.
Die grond
Daar is vier verskillende soorte grond waarin die saad val. Vier soorte hoorders. Die eerste se hart is verhard. Die evangelie gaan by die een oor in en by die ander uit. Die tweede se hart is sensitief. Die beloftes van die evangelie is mooi, maar sodra dit enige opoffering kos, dan is dit te veel. Die derde se hart is verdeel. Iemand kan nie die Here en die wêreld liefhê nie. Dit is of die een of die ander. As daar nie radikaal gebreek word nie, word die plant deur die onkruid verstik. Die vierde deel val in die vrugbare grond. Daar bloei dit op en dra dié plant vrugte van die geloof. As uitverkore kinders mag ons hierin deel.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com