Skip to content
Menu

Lees: Mattheus 27:35-56 Teksverse: 51b,52 Sing: Ps. 130:1,2,3,4; Ps. 69:2,4,9; Ps. 69:13,14; Sb. 5-3:1,4,5

‘…die aarde is geskud en die rotse is oopgebreek. Die grafte is geopen en baie liggame van ontslape heiliges is opgewek.’

DIE AARDE IS GESKUD – GOEIE VRYDAG

Waarlik, Hy is die Seun van God. In die Mattheus evangelie word hierdie saak uitgelig. In besonder sien ons dit by die gebeure aan die kruis. Voor die kruisiging hoor ons hoe hulle ons Here Jesus Christus hieromtrent spot. Vroeg die oggend hoor ons die woorde van die hoëpriester: Jy moet vir ons sê – Is jy die Christus, die Seun van God? Toe Jesus dit bevestig, was hulle gesprek klaar en was hulle reg om Hom te veroordeel. Later die dag hoor ons die woorde – ‘…as jy die Seun van God is, red jouself, en kom af van die kruis!’ Dit roep die mense daar tydens die lang ure aan die kruis. Maar dan, nadat Jesus sterf, kom daar ‘n wending. Van spot word oorgegaan na erkenning. Die Romeinse soldaat sê. ‘Hy was werklik Seun van God.’ Voordat hy dit sê, gebeur daar na die dood van Jesus iets aangrypend. Iets wat die mense van spot tot by erkenning bring. Die aarde is geskud.

Die hemel word stil

Geen stem uit die hemel nie. Dit is die geval tydens die lyding van Jesus. In sy hele lewe was daar net twee keer ‘n stem uit die hemel. Aan die begin van Sy werk, toe Hy gedoop is. En aan die begin van die finale fase, ‘n paar maande voor sy kruisiging. Gedurende daardie laaste weke, daardie laaste volle dae, gedurende daardie laaste lang ure aan die kruis, word die hemel stil. Ons Here Jesus roep uit – ‘My God, My God, waarom het U my verlaat?’

Die aarde antwoord

Daar is geen stem uit die hemel nie, maar die aarde antwoord. Die oomblik toe Jesus sy laaste asem uitblaas het die aarde geskud, die rotse is oopgebreek en die grafte is geopen. Die tekens gebeur by die dood van Jesus Christus. Die tekens spreek van oordeel en redding. Die skeur van die voorhangsel in die tempel, die skud van die aarde en die verskyning van die opgewekte heiliges. Hierdie tekens  maak duidelik dat in Jesus die profete vervul word.

Hy was werklik Seun van God!

“Hy was werklik Seun van God!” Dit is die woorde van die Romeinse hoofman oor honderd en die soldate wat daar die orde gehou het. Deur die goddelike majesteit word hulle op hul knieë gebring. Hulle sien die tekens. Al verstaan hulle sekerlik nie alles wat daar gebeur nie, is  dit genoeg vir hulle om te sê: “Hy was werklik Seun van God!”

GESPREKSPUNTE
1. Hoe maak die versoening van Jesus Christus dit vir ons moontlik om in die teenwoordigheid van God te wees?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com