Lees: Handelinge 9:1-22 Teksverse: 4,5,15 Sing: Ps. 95-1: 1, 4; Ps. 19-1: 4, 7; Ps. 139-1: 1, 3, 12; Sb 2-4: 1, 3
Die apostel Paulus is vir ons baie bekend. Hy het baie groot dele van die Nuwe Testament geskryf en die Here het hom ryklik gebruik vir die groei, opbou en uitbreiding van die kerk van alle eeue. Ons is egter nie altyd bewus van die kragtige werk van die Here in hierdie man se lewe nie. As ons Paulus se lewe voor sy bekering ondersoek dan staan ons in verwondering voor die kragtige hand van die Here in Paulus se lewe. Paulus was van die vernaamste en ywerigste vervolgers van die vroeë Christene en die kerk.
Tog gryp die Here in en na ʼn ontmoeting met die opgestane Jesus, bekeer Paulus homself. Hy is skielik ʼn nuwe man – nie meer die groot vervolger nie, maar die groot verkondiger van Jesus.
Alhoewel Paulus se bekering ʼn unieke gebeurtenis is, wys die verhaal van sy bekering steeds vir ons belangrike kenmerke van die ware bekeerde se lewe. Die grootste hiervan is die veranderde lewe. Paulus het handomkeer verander na sy ontmoeting met Jesus. Geen meer vervolging van die kerk nie. So ver hy kon het hy die Here se Naam verkondig en groot gemaak onder alle mense. Deur sy lewenswyse het hy getuig dat hy ʼn kind van die Here is. Dit is hoe ʼn ware bekeerling lyk. Iemand wat afsien van sy ou natuur en wêreldse begeertes en welluste. Die ware bekeerling leef sy lewe in totale diens van die Here.