Skip to content
Menu

Skriflesing: Johannes 6:22-59 Teksvers: 35 Beleidenis: HK Sondag 28 Sing: Ps. 104:1,2,8,9; Ps. 31:1,2; Sb. 12-2:4,5; Ps. 4:2,4

Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie.

DIE INHOUD VAN DIE HEILIGE NAGMAAL

Volgende week gaan ons, as die Here wil, saam die sakrament van die Heilige Nagmaal gebruik. Ons sal dit saam as gemeente vier. Saam luister na die onderwys wat ons in die formulier daaroor ontvang. Vanaand hou ons dit in gedagte. Ons maak onsself gereed en berei ons voor. Want wat is die nagmaal nou presies? Wat gaan jou gedagtes as jy hier aan tafel sit? Waaraan dink jy? Waaraan dink jy voor die tyd, waaraan dink jy op die oomblik, waaraan dink jy na die tyd? Wat beteken die brood en die wyn? Waarvan is dit ‘n teken en ‘n seël? Hoekom is dit vir mense soveel belangriker om by die nagmaal te wees, maar nie by ‘n gewone erediens nie? Wat is die Nagmaal nou eintlik presies? Oor hierdie onderwerp is daar baie vra. En dit is belangrik om hieroor na te dink, en antwoorde te kry. Want met die nagmaal herdenk ons die kern van die evangelie. Hiervan moet ons goed op die hoogte wees. As jy hier aan tafel sit moet jy weet wat gebeur. Ons moet bewus wees wat die nagmaal werklik inhou.

Sakrament

‘n Sakrament is ‘n sigbare, heilige teken en seël wat God ingestel het om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël. Dit sien ons duidelik in die nagmaal. Die Here versterk ons in ons geloof met sigbare tekens. Brood en wyn beskryf die dade van Christus.

Saambindend

Hoekom is dit nou so belangrik om aan ‘n tafel te sit? Hoekom moet ons almal saam uit dieselfde beker drink? In die Woord word die gemeenskap tydens die Nagmaal beklemtoon. Christus het dit ingestel in ‘n gemeenskap. Die dissipels het almal saam uit een beker gedrink. Dit is belangrik, want ons gebruik die nagmaal nie as individue nie, maar saam as gemeente.

Skriftuurlik

In Johannes 6 sê Jesus: ‘Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.’ asook – ‘Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag.’ Die nagmaal is nie deur mense uitgedink nie. Dit is ‘n Goddelike instelling wat die Here grondig aan ons bekendmaak in sy Woord.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com