Lees: Lukas 14:15-24, Korinthiërs 10:14-22 Beleidenis: HK Sondag 30 Teksvers: 15 Sing: Ps. 147-1:1,2,7; Ps. 26-1:1,2; Ps. 116-1:1,7; Ps. 138-1:1,4.
Toe een van diegene wat saam aangeleun het om te eet, dit hoor, sê hy vir Hom: “Gelukkig is die een wat aan die maaltyd in die koninkryk van God sal deelneem.”
VLUGTELINGE AAN DIE NAGMAALSTAFEL
Die oorlog in Europa raak ons almal op hierdie oomblik. Verskriklik wat daar gebeur. Soveel mense het hulle goed gepak en getrek. Families is verdeel oor die wêreld. Mense met die status van vlugtelinge. Vreemdelinge in onbekende lande. Kindertjies sit in skole waar hulle die taal nie ken nie. Dit is nie so maklik om ‘n land in te kom nie. Soveel reëls en wette is in plek gestel om dit te bepaal. Wie is welkom en wie nie? Wie mag inkom en wie mag bly? Die vrae kom nogal ooreen met dit wat ons in die kategismus bely. Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom? Wie word toegelaat? Wie nie? Moet die mense ook aan die nagmaal toegelaat word wat met hulle lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is? Wie besluit daaroor en hoekom werk dit so?
Verwondering
Welkom in die land van vrede. Die land is nie Suid-Afrika, of een van die ander lande hier op die aarde nie. Dit gaan hier oor die koninkryk van God. Jy is ‘n vlugtelinge wat asiel soek by Jesus Christus. Die kerk van Jesus Christus is die grootste sentrum vir vlugtelinge in die wêreld. ‘n Plek waar mense lewe vind. Veilig en geliefd is. By Christus ontvang mense vryheid en vrede, by Hom kry jy blydskap en hoop, toekoms sekerheid, hemelse burgerskap. In die nagmaal word sigbaar. Die kategismus vat dit pragtig saam: ‘Die nagmaal betuig aan ons dat ons volkome vergewing van al ons sondes het…en dat ons deur die Heilige Gees in Christus ingelyf word.’ Vergewing van sondes, dit is jou bevryding van die dood. En ingelyf by Christus, dit is jou ewige lewe.
Verlange
‘Hulle wat vanweë hulle sondes ‘n afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en die wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter.’ Wie moet na die nagmaalstafel kom? Dit is die voorwaarde wat gestel word by die toegang tot die nagmaal. Die enigste manier om te lewe in die nabyheid van God. Dit is die sentrale vraag wat ‘n nagmaalsganger aan homself moet stel: Verlang jy na Jesus Christus? Na sy genade en liefde? Na sy krag en troos?
Verbondenheid
Die nagmaal word geken aan verbondenheid. Aan die Here en aan mekaar. Maar as jy die verbond skend, die gasvryheid misbruik, dan is daar nie vir jou plek nie. As jy op die een oomblik na die Here verlang en op ‘n ander oomblik afgode dien, dan is jy sonder bekering nie welkom nie. Nie aan die tafel van die Here nie, nie in die gemeente van Christus nie, nie in die Koninkryk van God nie.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com