Skip to content
Menu

Skriflesing: Mattheus 6:1-18        Teksvers: 6       Sing: Ps. 93-1:1,2,3,4; Sb. 12-3:1,2; Ps. 25-1:2; Ps. 64-1:1,6,7; Sb. 10-2; Ps. 91-1:1,8.

Mattheus 6:1-18

‘Maar jy, wanneer jy bid, gaan na jou binneste kamer, maak jou deur toe en bid tot jou Vader wat in die verborgenheid is, en jou Vader wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon.

HERE, LEER ONS OM TE BID

In die Bergrede leer Jesus ons oor die lewe in die koninkryk van God. In die eerste gedeelte gee Hy onderwys oor geregtigheid. Dit doen Hy met die saligsprekinge en die beeld van sout en lig. Dan pas Hy dit toe met ‘n aantal voorbeelde uit die wet. Nou in hoofstuk ses gaan Hy verder. Hier gee Hy nou onderwys oor hoe ons geregtigheid kan beoefen. Hy sê in vers 1: ‘Wees op julle hoede dat julle nie julle geregtigheid voor die mense beoefen om deur hulle gesien te word nie, anders is daar vir julle geen beloning by julle Vader in die hemele nie.’ Later skryf Paulus ook in 1 Tim. 4:7,8 –‘Oefen jouself om godvresend te leef; want liggaamlike oefening is wel in ‘n geringe mate nuttig, maar godvresendheid is nuttig in alle opsigte.’ Nou maak Christus hierdie beoefening van geregtigheid prakties deur drie geestelike oefeninge – Liefdadigheid (2-4); Gebed (5-15) en Vas (16-18). Op die middelste een gaan ons vanoggend fokus. ‘n Aktuele saak in elkeen van ons se geloofslewe. ‘n Saak waaroor daar baie vrae is en ook gereeld worstelings.

Persoonlik

Wanneer Jesus ons oor gebed leer, staan sy onderwys in ‘n breër konteks. Sy groter punt is dat om God te dien ‘n baie persoonlike saak is. Dit is goed om daar te begin. Om die gebedslewe in plek te stel. Daar is baie maniere om God te dien. Gebed is onderdeel daarvan. En dit is ‘n persoonlike saak. Persoonlik is anders as privaat. Geloof het ‘n persoonlike kern: die verbondenheid met God. Jy bid omdat jy God ken en jy weet dat jy deur God geken word. Dan is dit onmisbaar. Dit kom van binne uit.

Met vertroue

In vers 7 en 8 lig Jesus nog ‘n verdere saak uit. Bid nie soos die heidene nie, maar praat met God in vertroue. Wees bondig en eerlik. Bid vir alles wat jy nodig het vir liggaam en siel. Gebruik jou gebedstyd om by God te wees. Dit gaan nie oor die lengte nie, maar om in vertroue te bid. Die vertroue dat die Vader reeds weet wat jy wil sê, vertel of vra. In die geloof dat ‘n enkele woord genoeg is vir die Here. Met die wete dat Hy dikwels sonder ‘n vraag al in aksie vir Sy kinders kom.

Taal van die koninkryk

Die kern van Jesus se onderwys is dus: laat jou motiewe suiwer wees. Om te bid is om deel te neem aan God se koninkryk, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gebed is die taal van die koninkryk!

Gesprekspunte

  1. Gebaseer op Matteus 6:5-8, wat dink jy is ‘n goeie beskrywing van wat gebed is?
  2. Op watter maniere kan gebed belangriker word in ons gemeentelewe?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com