Lees: Hebreërs 5:11-14, Hebreërs 6:13-20 Teks: Hebreërs 6:19 Sing: Ps. 107:1,4,10; Ps. 119:4,5; Ps. 90:1,9; Sb. 8-1:1,2.
‘Ons het hierdie hoop as ‘n veilige en stewige anker van die siel, wat tot aan die binnekant van die voorhangsel ingaan.’
DIE ANKER VAN JOU SIEL
Die Here praat hard met die Hebreërs. In Hoofstuk 5 hoor ons dit. Hulle is weer terug by melkkos. Dit is onaanvaarbaar. ‘n Volwasse gelowige kan nie daarvan leef nie. Hy het vaste kos nodig. Hieraan word hulle nou weer herinner. Hulle aandag word weer gefokus op dit waaroor alles gaan. En hierin praat die Here ook met ons. Hy gee vir ons ‘n anker vir die siel. ‘n Anker is ‘n bekende beeld. Dit kry jy by ‘n boot. As die see onrustig raak, dan kan die bemanning op die boot die anker uitgooi. Dan sal die boot nie wegvaar nie, maar op een punt bly. Dit gee standvastigheid en sekerheid. Hier waar ons op die aarde leef, is genoeg dinge wat onrus veroorsaak. Deurlopend veroorsaak die duiwel en die sonde, storms in jou lewe. Word jou lewe op verskillende maniere rond geskud. Om ons staande te hou gee die Here vir ons ‘n anker. Die anker gaan nie omlaag nie, maar omhoog. Die anker is diep gevestig deur Jesus Christus in die hemel. Die Here gee vir ons diepe sekerheid, standvastigheid hier op die aarde.
Gegrond in die belofte
Om vir die Hebreërs aan te toon dat hulle nie die beloftes van die Here moet prysgee en terugval na die ou bedeling nie, toon die Here vir hulle aan dat al sy beloftes waar word. Aan Abraham het die Here beloftes gegee (Genesis 12:2, 15:5). Abraham sal ryklik geseën word met ‘n groot nageslag, dit sal wees soos die sterre van die hemel en die sand van die see. Die Here se beloftes aan ons staan ook vas. Hy belowe dat ons tot in ewigheid saam met Hom sal leef.
Bevestig met die eed
Sy beloftes bevestig Hy met ‘n eed. ‘Want toe God aan Abraham die belofte gegee het, het Hy, omdat Hy by geen meerdere kon sweer nie, by Homself gesweer.’ (vers 13) As ons as mense ‘n eed aflê dan doen ons dit in die Naam van die Here. Ons roep Hom in as getuie (Hy weet wat alles gebeur) en ook as Regter. Die Here kan by geen meerdere sweer nie, want daar is niemand groter as Hom nie. Die eed van die Almagtige God waarborg die beloftes wat Hy vir ons gee.
Gefokus op die hoop
Die Here bemoedig ons om vas te hou aan die hoop wat voorlê. Hy gee vir ons ‘n anker vir die siel. ‘n Anker wat nie na onder gaan nie, maar na bo. Die anker is gevestig deur Jesus Christus in die hemel. Daardeur sal ons staande bly hier op die aarde. Standvastig geanker deur die geloof. Ons hoop gefokus op Jesus Christus aan die regterhand van God ons Vader in die hemel.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com