Lees: Hebreërs 8 Teksvers: 1 Sing: Ps. 75-1:1,4,6; Ps. 110-1:1,5; Sb. 12-2:2,3; Ps. 9-1:1,7,10.
‘Die hoofsaak van wat gesê is, is dat ons só ‘n Hoëpriester het: Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemele.’
JESUS CHRISTUS ONS HEMELSE LITURG
Vir ons is die verbond van die Here ‘n belangrike onderwerp. ‘n Tema waaroor daar baie vrae is. As daar oor hierdie onderwerp gepraat word, is daar meestal heelwat onduidelikheid. Baie keer klink dit ingewikkeld. Want wat is ‘n verbond? Hoe werk ‘n verbond nou presies? Wat is die ou en die nuwe verbond? Dit waarvan daar in die Bybel hier gepraat word? ‘n Verbond is ‘n ooreenkoms tussen twee partye. Die twee partye, waaroor dit hier gaan, is God en mense. Die verbond rig God self op. Hierin is twee aspekte aanwesig. ‘n Verbond het altyd twee dele. Daar is altyd ‘n belofte en ‘n eis. Die Here belowe dat Hy iets gee, Hy eis dat ons daarop antwoord. In die geval van die verbond is dit – Ek sal vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees. Die belofte – die Here is ons God. Die eis – Ons sal sy volk wees. Ons sal Hom volg, en dien en eer. Dit sien ons by die ou verbond, ook by die nuwe verbond. In die ou verbond het die Here aangetoon hoe ons Hom kan dien en eer. Ook in die nuwe verbond toon die Here vir ons aan hoe ons Hom dit kan doen. Die oue is deur Christus vervul. Die nuwe is deur Christus nou in werking. In alles staan Hy sentraal. Altyd is Hy ons liturg – Hy gaan voor. Dit is Hy wat ons erediens aan die Here vir ons aantoon.
Die ou verbond vervul
Die Hebreërbrief bereik sy klimaks. Alles wat tot op hierdie punt gesê is, het na hierdie oomblik gelei. Dit hoor ons in die eerste vers van hoofstuk 8. ‘Die hoofsaak nou van wat ons gesê het is dit.’ Nou kom ons by die hoofsaak. Dit waaroor alles gaan. En dit is – ‘Ons het so ‘n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele.’ Nou word dié hoofsaak bespreek. Die ou verbond waaroor dit hier gaan is die priesterverbond. Daarin het die Here vir die Israeliete aangetoon hoe hulle erediens teenoor Hom moet wees. Die tempeldiens met sy diereoffers het Jesus Christus vervul.
Die nuwe verbond in werking
Christus dien nou in ‘n nuwe verbond. Die voorhangsel wat op Goeie Vrydag in die tempel geskeur het, getuig daarvan. Nou werk Hy in die hemelse heerlikheid. Aan die regterhand van God die Vader gaan Hy voor as hemelse liturg. Daar tree Hy vir ons in. Die offer wat Hy gee het ewigheidswaarde. Juis daardeur is ons met God versoen. Dit is bepalend vir ons erediens hier op die aarde vandag.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com