Lees: Psalm 145 Belydenis: HK Sondag 47 Teksverse: 18 & 21 Sing: Ps. 33-1:1,6,11; Ps. 145-1:1,10,12; Ps. 68-1:2; Ps. 8-1:1,5,6,7.
‘Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in waarheid aanroep…My mond sal die lof van die Here verkondig; alle mense moet sy heilige Naam prys vir altyd en altyd.’
DIE HERE IN WAARHEID AANROEP
In die Onse Vader leer Jesus ons om te bid vir alles wat ons nodig. Alles vir liggaam en siel. So word dit in die Kategismus beskryf. Dit is die wese van die gebed. Maar dan lyk dit of die eerste bede nie hierby aansluit nie. Want nou word hier begin en eers word die aandag gefokus op die Naam van God. Eers moet sy Naam geëer en geprys word. Ons bid – laat U Naam geheilig word. Dit is ‘n interessante invalshoek, want blykbaar, is dit die eerste wat vir ons self nodig is. Vir liggaam en siel is dit nodig om God te prys. Om die Naam van die Here te heilig. Daarom begin ons – met die eerste bede van die gebed: ‘Laat U Naam geheilig word.’ Dit is nie sonder rede die eerste bede nie. Dit is die eerste woorde wat Jesus in ons monde lê. Ons primêre wens, ons eerste verlange en sterkste verwagting. Dat God se Naam geheilig word.
Met kennis van sy Naam
Kan ons God regtig self leer ken? Baie keer is die eerste reaksie: Dit is baie moeilik. Jy kan tog iemand regtig eers ken as jy hom persoonlik ontmoet. God is wesenlik anders as mense en vir die meeste mense ontoeganklik. Hy kan nie gevind en deur mense geken word tensy Hy Homself openbaar nie. Selfs dan is Hy ondeurgrondelik, behalwe in wat Hy self vir ons sê. Daarom gee God Homself name. Hy maak Hom daardeur bekend en tree so in kontak met ons.
Die voorreg om sy Naam te ken
Deur Jesus Christus kan ons God werklik ken. Deur die Woord is daar heelwat wat ons van die Here weet. Daarvan word reeds in Psalm 145 gesing. In die Psalm word die deugde van God in digterlike taal beskryf. Sy wonderlike wysheid, sy goedheid, sy regverdigheid, sy grootheid, sy majesteit ens. Ons is bevoorreg dat ons die HERE ken in sy volmaakte bestuur van die wêreld, maar ook in sy daaglikse voorsienigheid en instandhouding van die menslike geslag. In hierdie algemene genade deel elke mens. Ons is bevoorreg. Ons deel ook in God se besondere genade. Aan die slot van die Psalm vind ons die HERE se besondere genade aan sy verbondskinders. ‘Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in waarheid aanroep.’ Ons mag Hom in waarheid aanroep!
Tot eer van sy Naam
Om die HERE te loof en prys. Om Hom te eer, sy Naam te heilig. Dit is prioriteit in ons gebed. Terselfdertyd is dit wat ons nodig het vir liggaam en siel. Om God te ken. Om deur God geken te word. Net dan kan ons in die waarheid, in Christus leef. Want om Hom te ken en in Hom te roem, dit is die lewe. In Johannes 17:3 sê Christus vir die Vader: ‘En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus.’
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com