Skip to content
Menu

Prediker 3

‘Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd. Hy het ook die besef van tydsduur in hulle harte gegee, sonder dat die mens enigsins die werk wat God van begin tot einde doen, kan peil.’

VIR ALLES IS DAAR ‘N TYD

Sinloos, volslae sinloos. Dit is alles tevergeefs. Lug en leegte. Die woorde van Prediker ken ons. Daar is geen sin te vinde in hierdie leë lewe wat in ‘n oogwink verbyvlieg nie. Baie mense dink dat Prediker ‘n somber mens was. Veral aan die hand van die eerste twee hoofstukke. Maar in die deel wat ons vanoggend gelees het, kom daar ‘n wending. Prediker kom tot nog ‘n besef. En dit is vreugde – ‘Ek het besef dat daar tussen hulle niks beter is nie as om vreugde te ervaar en die goeie te geniet in die lewe…’ (vers 12) Die woord kom van hier ‘n hele klomp keer voor. Die Here stel die tyd vir die mens vas en hierin mag hy vreugde ervaar. So word vanoggend se deel ingelei. Te midde van die vergeefsheid van alle dinge, hoor ons opeens ‘n lied. ‘n Lied wat sing oor hoe die lewe is. ‘n Bietjie van dit en ‘n bietjie van dat. Maar dit kan ook gelees word as ‘n loflied oor die skepping. Alles het sy uur en tyd gekry. Vir ons as kinders van die Here ‘n oproep, om in die geloof te staan, in teenspoed geduldig, in voorspoed dankbaar. Vir alles is daar ‘n tyd. Vir elke saak ‘n vasgestelde uur.

‘n Tyd vir die tydelike

In die begin het die Here die wêreld vir die mens bewoonbaar gemaak. Ordelik het Hy dit geskep. As onderdeel gee Hy vir die mens tyd. Op die vierde dag skep Hy dit, stel Hy dit vas. Daar staan in Genesis 1:14 – ‘God het gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om skeiding te maak tussen dag en nag. Hulle moet daar wees vir tekens en vir vaste tye, en vir dae en jare.’ In Prediker het ons gelees dat die tyd van die mens wisselend is. Prediker skets die tyd van die mens nie as standvastig nie. Deur die sondeval het die standvastige tyd van die Here, vir die mens wisselend geword. Die tyd wat jy hier op die aarde leef is kort. Dit is maar ’n paar jaar wat die Here jou hier plaas. Maar die tyd hier is baie belangrik.

‘n Tyd vir die ewige

Hoe jy jou dae en ure ombring, het invloed op die ewigheid. Want ons weet dat ons sal leef tot in ewigheid. Dit is so bepaal in die donker ure  op Golgota. En die Here vra dat ons uit dankbaarheid teenoor Hom, hier sal lewe. Die kort tydjie hier op die aarde staan in ewigheidsperspektief. Ons sien uit om eendag weer in volmaaktheid te leef. Daar sal ons wisselende tyd heeltemal standvastig word. Sonder sonde sal ons in vreugde bestaan vir altyd.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com