Mattheus 13:24-43
HK Sondag 48
‘Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Laat dié wat ore het, luister!’
LAAT U KONINKRYK KOM
Laat U Koninkryk kom! Soveel mense, in allerlei tale, onderbreek hulle daaglikse werk en vra God vir die koms van sy Koninkryk. Dit kom nie vanuit hulleself nie. Ons het dit geleer by Hom, wat God beter as enigiemand anders ken. Wat presies weet wat die beste is om van God te vra. Hy leer ons – As jy bid, bid dan ook vir die koms van sy Koninkryk. So lê Jesus die woorde op die lippe van sy volgers. Vanaf toe styg die gebed op vanuit miljoene harte en monde: Laat U koninkryk kom! In die hemelse troonsaal hoor God die versoek voortdurend. Vir ons is die bede nogal riskant. Want die koms van God se Ryk beteken die einde van die aardse ryke. Die einde van die Republiek van Suid-Afrika en al die lande en state soos wat ons dit vandag in die wêreld ken. Die verhoring van hierdie bede, sal die grootste magsverskuiwing van alle tye tot gevolg hê. Die wêreld sal onherkenbaar verander. Waar is hierdie ryk? Is dit naby? Wat hou dit teen? Hierdie vra word in die bede aangespreek.
In my lewe
Jou lewe, die kerk, die wêreld. Die punte het ‘n logiese volgorde. Die kring word telkens groter. Hierdie verdeling loop parallel met die uitleg van die kategismus. Daardeur kan ons die reikwydte van die tweede bede in oog kry. As jy bid vir die koninkryk van God, dink dan in die eerste plek aan die gevolge wat die koms van God se ryk vir jou eie lewe het. Dit kan jy dalk konkreet saamvat met die woorde: Here gee dat ek my self steeds meer aan u onderwerp. Help my om oral en altyd Jesus na te volg. Regeer oor my lewe. In my lewe beteken dit dat ek leef onder die leiding van God.
In die kerk
God se koninkryk word nie net sigbaar in jou persoonlike lewe nie. God se koninkryk kry ook vorm in die kerk, in die sigbare gemeente van Jesus Christus. Ons bely in die kategismus: Bewaar u kerk en laat dit groei. Bewaring deur God se Woord en die prediking van Christus. Alles wat daarmee in stryd is, moet verwerp word. Bewaring teen innerlike verdeeldheid en oppervlakkigheid. En dan ook vermeerdering in diepgang en warmte, maar ook in aantal mense wat deur Christus die koninkryk binnegebring word. Die gemeente is ‘n plek waar die vrede en vreugde van God se ryk beoefen en ervaar word. Waar gelowiges mekaar help om volgens die lewensstyl van God se koninkryk te groei.
In die wêreld
‘Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word…’ In die gelykenisse in Mattheus 13 praat die Here oor die Koninkryk as ‘n land waarin goeie saad en onkruid saam opgroei. Vir die boer moes dit magteloos laat voel het. Ter wille van die goeie saad laat hy dit toe. Uiteindelik sal die goeie en die slegte geskei word. Maar nou nog is dit stryd en lyding. Om te bid vir die koms van die Koninkryk, beteken dat jy die stryd sal aangaan in hierdie wêreld.