Lees: 2 Kronieke 20:1-22 Belydenis: HK Sondag 52 v&a 127,128 Teks: 2 Kronieke 20:15 Sing: Ps. 47-1:1,3,4; Ps. 103-1:1,10; Ps. 27-1:1; Ps. 147-1:1,2,7.
‘…en hy het gesê: Luister mooi, die hele Juda, inwoners van Jerusalem en u, koning Josafat! So sê die Here vir julle, ‘Julle moenie bang wees of julle laat afskrik deur hierdie groot menigte nie, want dit is nie julle geveg nie, maar God s’n.’
DIE STRYD VAN DIE HERE
Ons lees vandag ’n gedeelte oor die geskiedenis van koning Josafat. Hy was ‘n koning van Juda, Hy was een van die goeie konings. Hy het aan die gebooie van die Here vas gehou en daarvolgens geleef. Maar ook hy ken goeie dae en slegte dae. Al was hy ’n regverdige man kom daar nog steeds moeilik dinge op sy pad. Hiervan het ons gelees. Hy word aangeval deur sy vyande. Die eerste wat Hy doen toe hy die nuus kry is opvallend. Hy bid tot die Here. Hy vra Hom om hulp. En dan lees ons in die teks vers die merkwaardigheid van die Here: Sy antwoord is vir koning Josafat en die volk is soos volg: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God. Op hierdie vers plaas ons die fokus. In alles hou ons die oë gerig op God. Op die saak van God. Hy wat ons leer om te bid – Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die bose.
Buig voor die almag van die Here
Met Josafat en die ryk van Juda het dit goed gegaan. Baie goed. Hulle het die wil van die Here gevolg. Maar terwyl dit goed gaan met die volk word hulle aangeval. Dit is in jou persoonlike lewe miskien ook so. Jy doen alles om volgens die wil van die Here te lewe. Juis op die oomblik wat jy met volle oorgawe die Here dien, kan jy maar verseker wees dat die Satan ’n aanval sal loots. Net as jy dink alles in die lewe gaan nou goed, dan kruis daar ’n nuwe probleem jou pad. Dan toon die Here vir ons die weg. Daar waar die nood is, soek God. Buig voor Hom neer en bid.
Aanskou die almag van die Here
Die Here gryp in. Hy verhoor die gebed van die volk en Hy maak die stryd sy stryd. Die Here gee redding. Hy beloof vir koning Josafat dat hulle moet aanskou hoe Hy redding bied. Vir ons bied die Here redding. Die hoogtepunt van sy redding het Hy vir ons gegee toe Jesus aan die kruis gesterf het. In so ’n mate stry God vir ons. Nie net liggaamlik nie, maar ook geestelik. Hy gee vir ons redding en uitkoms. In hierdie lewe en in die ewige lewe. Die Here maak ons saak sy saak.
Loof en prys die almag van die Here
Die Here het geantwoord. Die reaksie van die volk is dat hulle op hulle knieë gaan en die Here dank vir dit wat Hy doen. Die volk betuig eerbied vir die majestueuse Woord van die Here. Die koor van die Leviete sing ’n loflied. Hulle prys God vir sy grootheid en sy almag. By die koor van die Leviete mag ons vandag aansluit.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com