Skip to content
Menu

Lees: 1 Petrus 1:1-12 en Gen. 46:26-47:12      Teks: Gen. 47:7, 10        Sing: Ps. 138:1, 2; Ps. 66:2, 8; Ps. 33:9, 10; Ps. 4:2, 4.

Deur God se genade het ek ware rykdom om te gee.

Inleiding:

Die ontmoeting tussen Farao en Jakob lyk onbenullig. Let egter mooi op wat hier plaasvind. Watter een van hierdie twee het werklik iets om te gee?

Farao, die man met mag, voedsel, rykdom en land. Jakob – hy kom vir hulp. Die man uit wie se nageslag die Christus gebore sou kom, kom in afhanklikheid na Egipte.

God se kinders lyk dikwels so arm en so weerloos, maar…

Hoe arm en weerloos lyk Jakob nie! Dit lyk of hy nie eers meer kon loop nie. Hulle moes hom indra voor Farao. Maar hoor wat gebeur. Jakob seën die Farao. In daardie kort oomblik in die teenwoordigheid van Farao wys Jakob (deur die seën wat hy uitspreek) op ware mag, ware voedsel, ware rykdom en die Een aan Wie alles behoort.

Nie die wêreld het iets van ware waarde om te gee nie, maar God se kinders. Hulle het alles om te gee.

In die seën wat gelowiges uitdeel, skitter God se genade.

Sou ‘n mens nie moet soek na ‘n beter voorbeeld van iemand wat werklik aan die wêreld iets waardevol kan bied as Jakob nie? Hy is ‘n mens met ‘n verlede, nie waar nie? Hy is ‘n voorbeeld van, wat ‘n mens kan noem, ‘n “seëndief” of ‘n “seëngryper.” Hy was nie ‘n “seënuitdeler” nie. Hy is mos die man wat saam met sy ma vir Isak bedrieg het toe Isak vir Esau wou seën.

Juis Jakob is ‘n goeie voorbeeld, want in hierdie bedrieër skitter God se genade. Let op hoe hy Farao se eenvoudige vraag antwoord. Farao het maar net vir Jakob gevra hoe oud hy is. Jakob, wat soveel dinge in sy lewe op allerlei maniere vir homself wou gryp, se antwoord getuig van insig in sy lewe op hierdie aarde. Hierdie lewe is nie meer vir Jakob die een en al nie. Jakob verstaan “vreemdelingskap” (vgl. ook 1 Petrus 1:1) op hierdie aarde. God se genade het die bedrieër verander. As veranderde mense word hy ‘n seënuitdeler.

Deur God se genade in Jesus Christus het ek werklik as gelowige iets van ware betekenis om aan ‘n ander te bied. Is dit my perspektief op myself en op my roeping in hierdie lewe?

God se genade lei tot meer rykdom om uit te deel

Dit is nie voldoende om maar net sekerheid te hê dat ons deur God se genade ware rykdom het om uit te deel nie. God se genade bring ook groei. Deur die werking van die Gees begryp gelowiges meer en meer wat dit inhou om as uitverkore vreemdelinge op hierdie aarde te leef. Hulle groei ook in ‘n lewe van vreemdelingskap. Deur die Gees het ons al hoe meer rykdom om uit te deel.