Lees: Handelinge 9:1-25 Teksverse: Handelinge 9:15-16 Sing: Psalm 113: 1, 2; Psalm 85: 3; Sb 2-2: 1, 3; Psalm 32: 4, 5, 6.
Die Here kies en rus soms die mees onwaarskynlike mense toe om sy instrumente te wees. Ons sien dit by Saulus (Paulus) in Handelinge 9:15-16. Hoe merkwaardig is dit dat die Here iemand wat ‘n verskriklike vervolger was, kan uitkies om sy instrument te wees. Die feit dat Saulus ‘n uitverkore instrument is, verskil nie baie van hoe die Here in ons eie lewens werk nie. Die Here kies en gebruik elkeen van ons op ‘n besondere wyse om sy instrumente te wees. Ons erken dat ons soms nie verwag om as instrumente gebruik te word nie, of dat ons onsself miskien onbekwaam ag. Aan die ander kant tree ons as instrumente soms nie reg op nie. Ander kere weet ons nie waarvoor die Here ons as instrumente wil gebruik nie. Daarom is dit belangrik om die boodskap van Handelinge 9:1-25 te hoor: Jesus Christus kies ons as instrumente uit en Hy rus ons toe, sodat ons ter wille van sy Naam sal getuig en ly.