Lees: Psalm 122 Teksvers: Psalm 122:1b Sing: Sb. 1-2:1,2,3; Sb. 12-3:1,2; Ps. 51:1,5,8; Ps. 122:1,2; Ps. 84:2,5; Ps. 93:1,2,3,4.
‘Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here.”
Kom ons gaan na die Here
Psalm 122 is een van die pelgrimsliedere. Dit is die psalms wat die Israeliete gesing het as hulle tempel toe gegaan het. Israel het destyds uit 12 stamme bestaan – 12 Provinsies. Die mense moes ’n ent stap om by die tempel uit te kom. Drie keer per jaar het hulle dit gedoen. Dit was die Here se opdrag aan hulle. In Deuteronomium 16:16 staan daar – ‘Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die Here jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies.’ Die plek wat die Here vir Hom gekies het – Jerusalem. Die dae wat hulle moet optrek is die feesdae. Vanuit die hele land, trek mense op. Hulle maak gereed, hulle berei hulle voor, vir hierdie ontmoeting met die Here. Om voor sy aangesig te verskyn. Ons leef in ’n ander tyd. Ons ontmoet nie die Here in die tempel in Jerusalem nie. Ons leef in die tyd wat die Heilige Gees uitgestort is. Die huis van die Here is nou plaaslik. Vanoggend het ons reggemaak en vanuit ons huise opgetrek. Om saam te vergader rondom die Here se Woord. Om die Here in sy erediens te ontmoet. As sy gemeente as die bruid van Christus. Om voor sy aangesig te verskyn. Nie drie keer per jaar nie, maar elke Sondag volgens die Here se instelling.
‘n Huis van Blydskap
Psalm 122 is ’n lied van blydskap. Met vreugde in die hart het die Israeliete dit gesing. Hulle was bly as hulle tempel toe gaan. Ons trek vandag op na die kerk van die Here. Ons kom hier in sy huis bymekaar. Ons het alle rede om met blydskap kerk toe te kom, want hier ontmoet ons, saam as gemeente, die Almagtige God in sy erediens.
‘n Huis van Reg
Dit is ’n belangrike eienskap van die kerk van Jesus Christus. Die reg moet geskied. Die wil van die Here word uitgevoer. Die stoele vir die reg staan in Jerusalem. Die mense gaan met vreugde soontoe omdat reg daar geskied. God is ’n regverdige God. Daarom is dit belangrik dat daar in ons kerke toesig gehou word. Dit is nodig dat die tug toegepas word sodat ons reg voor God leef.
’n Huis van vrede
Jerusalem beteken stad van vrede. Dit was vir die mense van ouds so gewees. Jerusalem was die stad wat vir hulle veiligheid bied. As hoofstad van Israel was dit dié vesting waarbinne die vrede bewaar is, waar mense veilig was teen die sonde. Binne die wêreld waarin ons vandag leef, is die huis van God ’n plek van vrede. In die besige lewe met swaar omstandighede vind ons hier rus. Vind ons hier vrede in Christus.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com