Aktiveer hierdie skakel vir die regstreekse uitsending
Lees: Jakobus 1:19-27 Teks: Jakobus 1:19 Sing: Ps. 139:1,12; Ps. 19:1,2,4; Sb. 10-2; Ps. 147:1,6,7.
‘Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons leef, leef ons immers vir die Here; en as ons sterf, sterf ons vir die Here. Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here.’
Doeners van die Woord van God
Word doeners van die Woord. Dit is bekende woorde van Jakobus die broer van die Here. ‘n Teksgedeelte in die Bybel wat gereeld aangehaal word. En met rede. Want dit is ‘n oproep van die Here wat elkeen van ons aanspreek. Jy word opgeroep om ‘n doener te word. ‘n Dader is iemand wat iets doen. Iemand wat aktief is, wat dinge onderneem. Iemand wat nie net praat nie, maar werklik ook doen. In die brief van Jakobus plaas hy die fokus op die leefstyl van elke Christen. Hy beskryf hoe Christus nagevolg moet word. Hoe jy jou geloof hier op aarde moet uitleef. Hy plaas die fokus op die pad van heiligmaking. Hy gaan daarvan uit dat sy lesers christene is. Dat hulle Jesus Christus ken, weet wat Hy hier op die aarde gedoen het. Hy lê nie die leer van Christus uit soos Petrus in sy briewe doen nie. Hy rig die aandag op die praktiese uitwerking van christenwees. Sy boodskap sluit aan by die pad wat ons hier op die aarde loop. Word daders, en nie maar net daders nie, maar daders van die Woord. Alle mense op die aarde is besig, bedrywig met allerlei dinge. Jakobus roep ons op om daders van die Woord te word. Dit is besonders, want dit gaan oor die Woord van God. Die Woord van God wat lewe bring waar dood is. Die Woord van God wat mense se lewens verander.
Stadig om kwaad te word (vers 21-22)
Jy is ‘n dader van die Woord as jy jou humeur onder beheer het. Daar is baie dinge waarvoor jy kwaad kan word. Kom dit ooreen met die wil van die Here? Word jy kwaad omdat jou wil in die pad staan van God se wil? Jakobus wys ons daarop dat ons sagmoedig i.p.v. toornig moet wees.
Flink om te luister (vers 23-25)
Jakobus moedig ons aan om te luister na die Woord van God. In die praktyk is dit nie altyd so maklik nie. Die lewe van vandag is besig. Elke stukkie van die dag is beplan. Waar kry jy in hierdie besige lewe tyd om na God te luister? Het jy tyd vir huisbesoek, Bybelstudie en huisgodsdiens? Jakobus vermaan ons: Wees gou om te luister!
Stadig om te praat (vers 26-27)
Moenie net praatjies maak nie, maar kom oor tot aksie. Dit beteken niks as jy sê jy is ‘n christen, maar nie soos ‘n christen leef nie. Jy kan nie met jou mond sê jy is ‘n christen en met dieselfde mond jou naaste afkraak en beledig nie. Daarom vermaan Jakobus ons om stadig te wees as ons praat. I.p.v. allerlei praatjies sê hy dat ons liewers die weduwees en die wese, vir hulle wat onderdruk word, gaan besoek.