Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan op hierdie skakel verkry word.

Lees: Hosea 1:1-12      Teks:Hosea 1:10-12        Sing: Ps. 18:1,2,14; Ps. 105:1,5; Ps. 80:1,10; Ps. 98:1,3,4.

 “Maar die kinders van Israel sal so veel wees soos die sand van die see wat nie afgemeet en getel kan word nie. Op die plek waar vir hulle gesê is, ‘Julle is Lo-Ammi,’ sal vir hulle gesê word, ‘Kinders van die lewende God.’ Die kinders van Juda en die kinders van Israel sal saamkom, en vir hulle een hoof aanstel. Hulle sal uit die grond opskiet, want groot is die dag van Jisreël. Sê vir julle broers, ‘Ammi,’ en vir julle susters: ‘Rugama.’

Die liefdesverhouding tussen die lewende God en sy kinders

Hosea, die seun van Beëri, was ’n profeet in die noordelike gedeelte van die volk Israel. Na koning Salomo het die ryk van Israel in twee verdeel. In die noorde het die Tienstammeryk Israel ontstaan en in die suide die Tweestammeryk Juda.  God stuur Hosea na die noordelike gedeelte.  In die Tienstammeryk het deur die loop van die jare baie dinge gebeur.  Koning Jerobeam het aan die begin daarvan sy eie tempels gebou. In dié tempels is goue kalwers aanbid.  Later was Agab koning.  Onder sy bewind het die massas Baäl gedien.  Sy vrou, koningin Isebel het God nie geken nie.  Sy het gedoen wat sy wou en so het sy die volk op ’n verkeerde pad gelei.  Jehu, sy opvolger, het die opdrag gekry om die geslag van Agab uit te roei.  Dit het hy op ’n gewelddadige manier gedoen. Later blyk dit dat Jehu ook nie ’n goeie koning was nie.  Hy en sy opvolgers het ook nie volgens die insettinge van die Here geleef nie. Keer op keer het die Here profete gestuur.  Aan die einde van die ryk stuur God sy profeet Hosea. Deur Hosea spreek Hy tot die volk op ’n interessante manier. Deur Hosea plaas God die fokus op die kern van die band tussen Hom en sy verbondsvolk. Hy plaas die fokus op die liefde. Uit dié gedeelte openbaar God Hom op ’n besondere manier aan ons. Hy praat hard met die volk. Sy oordele oor die volk is harde oordele.  Maar sy oordele gee Hy in die vorm van liefde.  Hy plaas sy oordele in die kader van ’n liefdesverhouding tussen ’n man en ’n vrou. Hierdie verhouding geld vir die Israeliete en ook vir ons.

Die taal van die liefde

God praat deur sy profeet Hosea op ‘n besondere manier tot die volk Israel. God plaas die fokus op die band tussen Hom en die volk. Die verbond wat God ingestel het is suiwer en rein. Dit is soos ‘n huwelik vol van liefde.

Die ontrou van die volk

Die volk Israel is ontrou. Hulle het agter ander gode aangeloop. Hulle het die Baäls en die ander vreemde gode van die land gedien. Die profesie van Hosea het met ons alles te make. Hoe gereeld is ons nie besig met moderne afgode nie?

Die liefdeband herstel

Die Here bly nog steeds besig met die volk, want Hy is ‘n lewende God. Hosea profeteer ook van die toekomstige heil. Hy kondig die koms van die Messias aan.