Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan op hierdie skakel gevolg word.

Lees: 1 Korinthiërs 12:31-13:13        Teks: 12:31         Sing: Ps. 85:1,3,4; Ps. 86:1,6; Sb. 2-4:1,2,3; Ps. 87:1,5; Ps. 89:1,3,6.

‘Julle lê julle toe op die belangriker genadegawes, maar ek wys julle die heel beste weg.’

DIE HEEL BESTE WEG – DIE LIEFDE IN CHRISTUS

Wie is nou regtig ‘n christen? Dit is die vraag waaroor die Korinthiërs worstel. In die kerk was daar konflikte. Hulle het na mekaar gekyk en beoordeel. Daar was gemeentelede wat kon profeteer, in tale kon praat, woorde van kennis kry. En daar was gemeentelede wat dit glad nie gehad het nie. Die eerste groep roem daarin in, dat hulle aanspraak het op hemelse woorde, hemelse taal en hemelse kennis. Dit is daar tot hulle beskikking. Hulle is trots daarop. Hulle is die ware christene, die ander is maar gewone aardse christene. Hulle is minder belangrik. Hulle moet nog werk in die geloof dan gaan hulle dalk ook daar kom. So het daar konflikte in die gemeente ontstaan, omdat die een gawe van die Gees belangriker as die ander geag is. Paulus het die gemeente hieroor al in hoofstuk 12 aangespreek. Daar het hy veral duidelik gemaak: Daar is verskillende mense, met verskillende gawes, maar almal is een in die Gees. Konkreet word die vraag gestel? Hoekom sit julle in die situasie? Inteendeel, al die verskille in die gemeente, het almal dieselfde doel – Dit is om die Here te verheerlik! Dit gaan nie oor jou wat bewonder moet word nie, maar oor ons Koning in die hemele! Dit gaan nie oor jy wat sentraal moet staan nie, maar oor Jesus wat die middelpunt van alles moet wees. Die verskille en gawes raak op die agtergrond, as ons na Jesus kyk.

Die liefde is onmisbaar (vers 1-3)

Paulus gebruik drie voorbeelde om aan te toon hoe onmisbaar die liefde is. Jy kan die genadegawes hê, maar as die liefde ontbreek dan is dit sonder waarde. Want – liefde bepaal die klank en die suiwerheid. Jy kan selfs in engele taal praat, maar sonder liefde is dit vals. Die tweede is profesieë, kennis en geloof. Dit gaan hier oor wat jy kan bereik. Maar ook sonder liefde, bereik jy niks. Die derde gaan oor geloof en dade. Ook hier geld die beginsel van liefde.

Die liefde is uniek (vers 4-7)

1 Korinthiërs 13 is ‘n gedig oor die liefde. Paulus vertel nie ‘n abstrakte verhaal oor die filosofie van liefde nie. Hy maak dit baie persoonlik. Hy beskryf die liefde as ‘n persoon wat vir ons vertel hoe die liefde lyk en hoe die liefde optree. Dit bring dit naby die hart. Veral as ons dan die lyn deurtrek na Jesus Christus. Want hier gaan dit oor God se liefde in Hom.

Die liefde is ewig (vers 8-13)

God ken ons deur en deur, in liefde. Kragtig word dit hier bevestig. Ek word deur God geken in ‘n ewige en onvoorwaardelike liefde. Dit is die evangelie van 1 Korinthiërs 13. Die liefde in Christus het ewigheidswaarde.