Skip to content
Menu

Hierdie skakel gee toegang tot die regstreekse video uitsending.

Lees: 2 Samuel 23:1-7       Teksvers: 2 Samuel 23:2       Belydenis: NGB Artikel 3          Sing: Ps. 71:1,2,9,12; Ps. 33:5,6; Ps. 147:7; Sb. 8-1:1,2.

 ‘Die Gees van die Here spreek deur my, sy woord is op my tong.’

DIE GESKREWE WOORD VAN GOD

Die Bybel is die boek wat die meeste al in die wêreld verkoop is. Die geskrewe Woord van God is al regoor die wêreld in baie tale en lande versprei. Dit is ‘n feit. Wat ook ‘n feit is, is dat daar baie aanvalle op die Woord is. Baie mense het heelwat kritiek hierop. Van al die godsdienstige boeke  word die Bybel seker die meeste verdag gemaak en gekritiseer. Die meeste mense los die Koran van die Moslems uit. Meestal uit vrees vir die wraak wat hulle kan uitoefen. Ook het die massas nie probleme met die boeke uit die ooste nie. Veral omdat dit wat daarin staan inskakel by die gedagtes van die New Age. In die geskrifte staan die mens meestal sentraal en daarom is daar nie ‘n probleem daarmee nie. Dit is egter nie die geval met die Bybel nie. Van alle kante word dit aangeval. Jammer genoeg ook van binne. Vanuit die christendom is stellings gemaak soos: Al die gepraat oor die dinge van daarbo, kom hier van benede. Of: Die Bybel is ‘n boek waarin mense oor God nadink, dit is nie ‘n boek waarin God aan die woord is nie. Groot gedeeltes van die Bybel word as mites beskou. In die lig hiervan is ons Geloofsbelydenis baie aktueel. Dit bring ons by die vraag: As God Homself in die Woord bekendmaak, kan jy dan aanvaar dat dit die Woord van God is? Waarom neem jy die Woord van God ernstig op? Hoe doen jy dit? Wat is die waarde van die Bybel vir ons vandag? Dit antwoord ons belydenis baie mooi: Die Bybel is die woord van God. Koning Dawid sê op die einde van sy lewe: ‘Die Gees van die Here spreek deur my.’ Hierdie woorde is op skrif gestel.

Die ontstaan van die Woord

In die Bybel is God self aan die Woord. Die Woord van die Here is op ‘n besondere manier op skrif gestel. Geïnspireer deur die Heilige Gees het God dit deur mense laat opskrywe. Petrus skryf daaroor in sy brief – ‘Deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.’ (2 Petrus 1:21) Ook koning Dawid getuig dat die Here so deur hom gewerk het – ‘Die Gees van die Here het deur my gepraat, ja, sy woord was op my lippe.’ (2 Samuel 23:2) Die Griekse woord vir Gees beteken asem. Die Here het hierdie mense in besit geneem en sy Woord deur hulle geasem. 

Die krag van die Woord

In die tyd wat Jesus Christus op die aarde was, maak Hy aan ons die krag van die Woord bekend. Dink maar net aan die gedeelte oor die versoeking van die Here deur die duiwel. Elke keer was die antwoord van ons Here Jesus: ‘Daar staan geskrywe…’ en dan haal Hy aan uit die Ou Testament. Dit is vir Hom die einde van alle teenspraak. Ook het Hy gedurig verklaar dat die Skrif in Hom vervul sal word. Hy bemoedig die apostels met die krag van die Woord – ‘Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.’ (Johannes 14:25,26)