Hierdie skakel gee toegang tot die direke uitsending.
Lees: Genesis 15 Teksvers: Genesis 15:18 Sing: Ps. 46:1,4,6; Ps. 25:2,7; Ps. 105:5; Sb. 16:1,3,6,7; Ps. 81:12; Ps. 9:1,7,10.
‘Op daardie dag het die Here met Abram ‘n verbond gesluit.’
GOD SE RADIKALE TOEWYDING – VERBOND EN DOOP
As ons ons kinders doop, bid ons vol verlange dat hulle deur die loop van hulle lewe in God sal glo. Sekerlik die belangrikste wens van ‘n ouer vir sy kind. Iets waaroor baie soms bekommerd is. Of my kinders gaan glo. Vir party is dit ‘n realiteit dat ‘n kind nie glo nie. Hierdie tema was al in die tyd van Abraham aktueel. Hy het gedurigdeur geworstel. Hy het heelwat twyfel meegemaak asook beproewings en teleurstellings. Soekend het hy in sy lewe die Here se stem gevolg. Dit stel jou vanoggend voor die vraag: Wat soek jy as jy wil ontdek wat die christelike geloof beteken? Waarop berus ons geloof? Waaroor gaan dit? In Genesis 15 word hierdie vrae beantwoord aan die hand van die verbond. Vir baie Gereformeerde gelowiges, is dit bekende taal. Dit is die taal wat in ons huise gepraat word. Maar baie, en veral van ons jonger generasies, herken hierdie taal nie meer nie. Ons luister na God se Woord oor sy verbond met gelowiges.
Abraham die gelowige
Abram is deur God geroep om saam met Hom te wandel. God het aan Hom drie beloftes gemaak. Abraham sal ‘n nageslag kry. Hy sal ‘n land kry. Hy sal geseën word om ‘n bron van seën vir ander te wees. Drie beloftes wat tot die basiese verlangens ook van ons lewens deurdring. Verbondenheid in ‘n familie. ‘n Plek om te woon en die verlange om betekenisvol te wees. Maar nou het daar al ‘n tyd verloop en hierdie beloftes het nog nie ‘n werklikheid geword nie. Hierop antwoord die Here in ‘n visioen. Abraham se reaksie – ‘Hy het die Here geglo. En Hy het dit vir hom as geregtigheid toegereken.’
God se toewyding
‘Here, my Heer, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem.’ Dit is Abraham se volgende vraag oor die land. Die opdrag wat Abraham dan kry (om die diere te gaan haal) word deur hom verstaan as inisiatief van God om ‘n verbond te sluit. Maar God gaan hierdie verbond eensydig aan. Hy gaan alleen deur die diere heen. Dit is radikale toewyding van God. Hier word bevestig: Jy mag aan sy beloftes vashou.
Ons toegewyde antwoord
Verbind ons die doop aan die verbond van God, dan doen ons dit met die vertrekpunt: God gaan ‘n ewigdurende radikale toewyding aan. God se radikale toewyding aan ons wil weerspieël word in ons radikale toewyding aan Hom. God se verbond is eensydig in sy ontstaan. Dit is tweesydig in sy bestaan. Met die oog hierop ontvang ons die Heilige Gees.
GESPREKSPUNTE
- Wat leer jy by Abraham as dit oor geloof gaan?
- Herken jy dit in jou lewe dat geloof met beproewing gepaard gaan?
- ‘Dit is hoe God werk.’ Sou jy iets hieroor kan vertel?
- Wat beteken dit vir jou om regverdig te wees?
- Hoe is jy ‘n bron van seën vir mense (niemand uitgesonder) om jou heen?