1 Korinthiërs 16:13-24 Openbaring 22:6-21
‘As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom ‘n vervloeking wees! Maranáta! Die genade van die Here Jesus Christus sy met julle!’ – ‘Hy wat hierdie dinge getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus!’
MARANATA – KOM, HERE JESUS!
Veiligheid, warmte, verbinding, uitsig. Dinge waarna jy kan verlang. Ons leef in ‘n tyd wat baie onseker is. Opgesluit agter mure, leef ons telkens verder van mekaar. Ons jongmense berei hulle mentaal voor dat hulle in ‘n onseker wêreld sal opgroei. Die kans vir ‘n ongestoorde lewe in vrede, lyk menslik onwaarskynlik. Volwassenes ervaar vermoeidheid, min energie en krag, baie irritasies en vreugde wat kwyn. Ouer mense praat van ‘n groeiende eensaamheid, ‘n besorgdheid oor hulleself, oor ander, oor die nageslag, oor die kerk, oor die land, oor die wêreld. Die verlange na ‘n rustige, gelukkige lewe sit binne ons as mense. Jy kan dit sien as ‘n diepgewortelde verlange na die lewe waartoe God ons geskep en geroep het. Daarom raak dit gelowiges so diep as ons deur die gebrokenheid en wanhoop van die wêreld geraak word. Want ons weet die Here bestem dit anders. Daarom verlang ons na die wederkoms.
Die belofte – ‘Ja, Ek kom gou!’
Aan die einde van die Bybel is ons Here Jesus Christus aan die Woord. Die gedeelte word op ‘n ernstige manier afgesluit. Drie keer bevestig Jesus dat Hy gou kom – Dit staan in verse 7, 12, 20. Saam met hierdie belofte dat Hy kom, lees ons nog twee ‘Ek is’ uitsprake van Jesus – ‘Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.’ (vers 13) en – ‘Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die helder môrester.’ (vers 17) Dit gaan saam met twee saligsprekinge – ‘Gelukkig is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol.’ en – ‘Gelukkig is diegene wat hulle lang stolas was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe, en die stad deur die poorte kan binnegaan.’ Hiermee staan die belofte vir ons vas. Deur Jesus Christus het ons ewige lewe saam God.
Die erns – ‘Amen!’
Die erns van die saak word in beide briewe beklemtoon. ‘As iemand die Here nie liefhet nie, laat hom vervloek wees.’ (1 Kor. 16:22) In die Nuwe Testament lees jy gereeld oor die wederkoms van die Here. As jy die tekste op ‘n rytjie sit, dan is daar iets wat deurlopend na vore kom. Dit is dat die wederkoms van Christus, amper altyd van betrekking is op die christelike lewenstyl. Die verwagting van Christus se koms hou nou verband met jou lewe elke dag.
Die verlange – ‘Kom, Here Jesus!’
‘En die Gees en die bruid sê: “Kom!” En laat elkeen wat luister, sê: “Kom!” En laat elkeen wat dors het, kom. En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kom kry, verniet!’ Dit is ons verlange. Met harte vol geloof sal ons bly roep vir die wederkoms van ons Koning.