Klik op hierdie skakel vir ‘n regstreekse uitsending
Lees: Nehemia 8 en NGB Artikel 5 Teks: Nehemia 8:9,10 Sing: Ps. 113-1:1,2,3; Ps. 72-1:1,11; Sb. 10-1:1,2,3,4; Ps. 47-1:1,3,4.
‘Die Leviete het uit die boek, uit die wet van God, voorgelees en dit uitgelê. Hulle het die betekenis weergegee sodat die mense kon verstaan wat gelees word. Nehemia die goewerneur, die skrifgeleerde priester Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, het vir die hele gemeente gesê: “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.” Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet.’
DIE GESAG VAN DIE HEILIGE SKRIF
In vandag se tyd is gesag nie ‘n gewilde woord nie. In die kultuur waar ons leef, is die eerste reaksie as gesag uitgeoefen word, weerstand bied. Dit pas by die era van die individu. Ek staan sentraal in my lewe. Ek besluit wat reg is en verkeerd. Ek doen ‘n ding op my manier. Hoekom sal ek nou doen wat iemand anders vir my sê? Ek het mos my eie regte. Reg op lewe. Reg op soveel meer ander dinge. Dit maak die gesag van die Woord ‘n konfronterende saak. Maar as ons mooi kyk wat die Here vir ons in sy Woord sê. Dit wat ons bely. Dan sien ons so vinnig raak dat dit ‘n kosbare skat is. Baie vinnig word die fokus van die eie ek na God geplaas. Verander menseregte in Godgegewe voorregte. As jy die gesag van die Woord aanvaar, dan verander dit jou lewe. Want dan het jy ‘n fondament buite jouself waarop jy bou. ‘n Reël, ‘n maatstaf vir jou geloof. Jou anker heg jy buite jouself aan die Woord. Aan Jesus Christus. Hy die Woord wat vleesgeword het. Hy het gesag.
Die bron van die gesag
Die Woord het gesag want dit kom van God af. Dit is nie iets wat deur mense gemaak is nie. Inteendeel ons ontvang dit. Ons maak dit nie, ons kry dit. Die bron van die gesag is God self. Ons Here Jesus het dit bevestig toe Hy hier op die aarde was. Vir Hom was die Ou Testament sonder twyfel die Woord van God. Hy het dit van harte geken. So gereeld het Hy daaruit aangehaal. Aan die kruis hoor ons die woorde uit die Psalms.
Die werking van die gesag
Watter gesag het die Woord vir ons vandag? Wat doen jy as gelowige kind van die Here met sy Woord? In ons tyd waar die individu op die voorgrond staan wil elkeen dit meestal op sy eie manier doen. Jy wil nie voorgeskryf word nie. Dit geld ook baie keer as dit by geloofsake kom – nee, ek glo op my manier. Maar so werk dit nie. ‘n Gelowige kind van die Here doen dit nie op sy manier nie, maar op God se manier. Hy buig voor die stem van die Here. Hy gee sy eie wil prys. Dit is die uitwerking van die gesag. Presies dit gebeur in Nehemia 8.
Die bevestiging van die gesag
Die gesag word vanuit drie hoeke bevestig. Eerstens deur die kerk van alle eeue. Tweedens deur die Heilige Gees. Buiten dat Hy die Outeur van die Woord is, bevestig Hy dit ook in die harte van die gelowiges dat die Woord van God is. Derdens word die Skrif in homself bevestig. Selfs die blinde kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.