Skip to content
Menu

Kolossense 2
NGB Artikel 25

‘Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor ‘n fees, ‘n nuwemaansfees of ‘n Sabbat nie. Hierdie dinge is net ‘n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus.’

DIE WET IN DIE LIG VAN CHRISTUS

Die seremoniële wet is vervul. So lees ons in die Nederlandse Geloofsbelydenis, maar daarby stop ons belydenis nie, dit gaan verder – Ons gaan nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig. As ons oor die wet of die wil van die Here praat, dan maak dit verskillende emosies by mense wakker. Oor die saak is daar al baie geskryf, al baie gepraat. En miskien gaan dit deur jou gedagtes: Goed. Die wet is prakties,  ek kan dit elke dag in die praktyk gebruik. Hoe die Here ons daarmee deur die lewe lei. Of, dit is broodnodig. Ons leef in so ’n goddelose wêreld. Dit sal goed wees om die wil van die Here voor oë te kry. Of miskien dink jy, hoekom moet ons nou weer oor die wet praat. Die wet is tog in Jesus Christus vervul, ons leef mos in die era van die liefde. Hoekom moet ons nou hoor oor die wet van die Ou Testament?

Die vervulling van die Ou Testament

Want wat word nou met die “seremonies en heenwysings van die Wet” bedoel? ‘Seremonies’: dit dui op die erediens van die Ou Testament, al die godsdienstige rituele en handelinge wat die priesters en die volk op bevel van die Here moes uitvoer. En ‘heenwysings’ – Die woord wat in die Latyn van die oorspronklike NGB gebruik word, is figurae – figure, simbole, prentjies. Dus, die Ou Testamentiese erediens en seremonies was gekenmerk aan figure en prentjies. Op dié manier het God sy kind, Israel, die abc van die geloof geleer…Maar nou sê Paulus vir die Kolossense: “Julle kan nie by die abc blý nie!” Dit is presies die betekenis van die woorde ‘eerste beginsels’ in verse 8 en 20. Vers 8 sê – ‘volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.’ en vers 20 – ‘As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het.’

Die erns van die Nuwe Testament

In die nuwe verbond ontvang ons groter verantwoordelikhede. Ons word nou as volwassenes gereken en nie as kinders nie. In die Nuwe Testament word die erns van die wet bevestig en beklemtoon. In Mattheus 5:17 sê Jesus: “Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profetes af te skaf nie.  Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul.” Agter elke gebod van die Here hoor ons die hartklop van God se liefde. Die wet roep dat niemand verlore gaan nie, maar dat daar bekering moet kom. Dat hy sal lewe. Die erns hiervan word keer op keer in die NT bevestig.