1 Samuel 2:12-26
NGB Artikel 29
‘Samuel het voor die Here diens gedoen…maar die seuntjie Samuel het by die Here grootgeword… Die seuntjie Samuel, daarenteen, het in aansien en guns gegroei, by sowel die Here as by die mense.’
KRISIS IN DIE KERK VAN CHRISTUS
Waaraan word die ware kerk van Jesus Christus geken? Dit is die vraag wat in ons belydenis gestel word. In die tyd was dit eenvoudig. Daar was die Rooms Katolieke kerk met al sy dwalings en die Protestante Gereformeerde kerke. Vandag lyk die wêreld heelwat anders. Daar is ‘n magdom van kerke rondom ons heen. Die fokus in ons belydenis is op hoe die ware kerk lyk. Daarin staan een saak op die voorgrond: Dit is die gehoorsaamheid aan God. Die ware kerk word geken aan die suiwer verkondiging van sy woord, sy sakrament en sy tug. Die ware kerk volg nie mense en hulle ideologieë nie. Soek nie na pragmatiese mens gesentreerde oplossings nie. Nee, sy leef volgens die maatstaf en beginsel – ‘So sê die HERE Here.’ Dit help ons ook in die tyd wat ons leef. Met geopende oë gaan ons deur die lewe. Kan ons sien of ‘n kerk in diens van die almagtige God staan, of in diens van mense.
Die grootheid van die goddeloosheid
‘Maar Eli se seuns was slegte mense; hulle het nie met die Here rekening gehou nie.’ (vers 12) Slegte mense. Korrupte deugniete. Waardelose niksnutte. Hoe so? Wat het hulle gedoen dat dit so erg is? Hofni en Pineas steel van die offers. Daardeur besteel hulle God en ook die mense. Hulle sondig openlik teen God. Dit word nog erger. Hulle slaap rond met allerlei vroue wat by die tabernakel diens doen. ‘Hierdie sonde van Eli se seuns was baie groot in die oë van die Here, want daardeur het die mense hulle agting vir die offer van die Here verloor.’ ‘n Vloed van sonde spoel oor die kerk. Die kerk is in krisis. In die huis van die Here word die Woord en sakramente nie suiwer verkondig nie.
‘n Bemoedigende fluistering
Soveel loop skeef in Silo. Maar as jy mooi lees, dan hoor jy die bemoedigende woorde van die Here. ‘n Deurdringende fluistering: ‘die seun het die Here by die priester Eli bly dien.’ (vers 11) Direk daarna volg ‘n vloed van goddeloosheid, diefstal en sedeloosheid, maar in vers 18 weer die fluistering – ‘Maar Samuel het die Here gedien…’ Dan weer is alles donker. Die oordeel is onafwendbaar. En dan tog weer in vers 26 – ‘maar die seun Samuel het grootgeword en die Here en die mense was hom goedgesind.’
‘n Dreigende oordeel
Eli waarsku sy seuns. Hy sê vir hulle – ‘Ag nee, my seuns, die gerugte wat ek verneem, is nie goed nie. Julle verlei die volk van die Here.’ Maar veel verder as dit kom hy nie. Die optrede van Hofni en Pineas gaan nie by die Here verby nie. Eli praat keer op keer. Hy plaas hulle self voor die Here – ‘As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as ‘n mens teen die Here sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree?’ Vir ons ‘n oproep om in die waarheid te volhard.