Die regstreekse uitsending kan hier verkry word.
Skriflesing: Nehemia 7:73-8:12 Teksvers: Nehemia 8:10 Sing: Psalm 31-1: 1,5,15,17; Psalm 51-1:2,6,7; Psalm 32-1: 1,4,5; Psalm 122-1: 1,2; Psalm 118-1: 1,6,7,12.
Die vreugde in die Here, dit is ons sekuriteit!
Hierdie gedeelte speel waarskynlik af in die tyd net nadat die muur van Jerusalem voltooi is. Dit kan afgelei word uit die feit dat Nehemia teenwoordig is. In die voorafgaande gedeeltes was daar gedurig aanslae om die herbou van die muur te keer. Nehemia se dapper leiding het egter vasberade bly voortbou. Dit vind plaas op die eerste dag van die nuwejaar, die tyd waarin die groot versoendag en die loofhuttefees ook gevier is. By hierdie geleentheid het daar dan verbondsvernuwing plaasgevind. Die wet is vir die volk voorgelees en verklaar. Die volk het baie gehuil, omdat hulle hul eie tekortkominge daarin raakgesien het.
Die troos van ‘n heilige feesdag
Terwyl die volk egter huil oor hulle sondes teen die Here se wet, beveel Nehemia hulle egter om op te hou. Hy beveel hulle twee keer in hierdie gedeelte om op te hou huil. En asof dit nie genoeg is nie, beveel die Leviete die volk nog twee keer dat hulle moet ophou om te huil. Nou kan ons vra: Is die volk se trane nie geregverdig nie? Dit is immers wat ons reaksie op ons eie sonde moet wees? Ons moet inderdaad berou hê oor ons sonde. Die motivering wat egter deurgaans in hierdie gedeelte gegee word vir die opdrag is “hierdie dag is heilig aan die Here”. Dit is die rede waarom die volk nie meer hoef te huil nie. Hierdie dag van verbondsvernuwing is heilig aan die Here. Dit is ’n feesdag wat deur Hom ingestel is. Wat is so wonderlik daaraan? Wel, as die Here in die Bybel ’n feesdag instel, dan beteken dit dat Hy iets gee om te vier. Hy het byvoorbeeld by die instelling van die pasga, genade gegee en nie die Israeliete se eersgeborenes getref nie. Die feit dat die Here hierdie dag geheilig het, sou vir die volk beteken dat Hy hulle steeds in genade aansien. Hy vergewe steeds. Hy is steeds lief vir hulle. Die volk het dus ’n rede gehad om fees te vier. Dit is hoekom ons vreugdevol moet feesvier in die erediens. Die Here het sy Seun gegee om vir ons te sterf, en om vir ons op te staan. Ons sondes is dus weggeneem. Ons is met Hom versoen. Dit is ons ewige troos in lewe en in sterwe. Daarom leer ons Skrifgedeelte ons verder van:
Die sekuriteit in veilige vreugde
Die volk was regtens ontsteld oor hulle sondes. Nehemia het hulle egter beveel om bly te wees. Hy kon dit doen omdat die Here vanweë sy goedertierenheid en trou vir die volk ’n rede gegee het om bly te wees. Hy het hulle vergewe. Hy het hulle immers uit die ballingskap laat terugkeer. Die vreugde wat hulle in Hom sou vind, het dus as geldige weerstand teen hul hartseer gedien. So is dit vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges ook. Jou vreugde is jou sekuriteit. Indien jou vreugde veranker is in die verlossing van Christus, dan is dit geldig en blywend. Dit sal uitloop op ewige onvermengde vreugde. Dit is hoekom ons ons vreugde ook in die erediens moet vind. Die Here het ons iets gegee om te vier. Die Heilige Gees wek vreugde vanweë ons verlossing in ons. Indien ons iets anders ons bron van vreugde maak, sal hartseer ons oorweldig. Vier dus die feeste van die Here getrou, jou vreugde in Hom sal jou beskutting wees.