Die regstreekse uitsending kan hier verkry word.
Skriflesing: Rut 1:19-2:3 Teksvers: Rut 2:2,3 Sing: Psalm 146-1:5,6,7,8; Psalm 81-1:6,7,11,12; Psalm 105-1:5,6,7,24; Psalm 68-1: 2,3,12.
God bewerk genade deur sy verbondsinsettinge!
Hierdie gedeelte speel af teen die agtergrond van ’n geweldige beproewing in die lewe van Naomi en Rut. Die vorige hoofstuk het die verhaal vertel van Elimeleg wat saam met sy vrou, Naomi, weg van die Here se beloftes af trek. In die land van Moab het hulle seuns getrou met heidense meisies, maar die mans het almal spoedig gesterf. Naomi het besluit om terug te trek Betlehem toe. Rut het gesweer om by Naomi, haar volk en by haar God te bly. Vanweë haar bitterheid het haar naam egter na Mara verander. Die Here is volgens Ps 68:5 “‘n Vader van die wese en ‘n regter van die weduwees”. In ons Skrifgedeelte sien ons hoe die Here begin om die lot van hierdie twee weduwees om te draai.
Die agent van die Here se genade
Hierdie teksgedeelte begin deur te vertel van Boas, die familielid van Elimeleg. Daar word genoem dat hy ’n vermoënde man was. Dit beteken waarskynlik dat hy ’n grondeienaar met baie mag was. Ons moet egter besef dat hierdie inligting nie in hierdie gedeelte reeds in Naomi en Rut se gedagtes was nie. Die Skrif deel dit aan ons as lesers mee om ’n leidraad te gee oor die manier waarop die Here die lot van hierdie twee weduwees wil verander. Boas kon die Naomi en Rut se losser wees. Die Here het die lewe van sy verbondsvolk so ingerig dat manne soos Boas vir die weduwees moes sorg, deur met hulle te trou. Die Here maak dus reeds in hierdie vers bekend dat Hy aan hierdie weduwees genade wil gee deur die wysheid van sy verbondsordening. Dan hoor ons verder van:
Die soeke na die Here se genade
Die weduwees sit in nood. Hulle het niemand wat vir hulle wil sorg nie. Rut besef dat hulle uitgelewer is aan die genade van ’n meerdere. Sy besef dat hulle by uitstek uitgelewer is aan die genade van die Here. Daarom gaan soek sy ook sy genade binne sy verbondsordening. God het die wette van Levitikus 19:9-10 gegee sodat die armes versorg moes word. Armes het die reg gehad om te gaan are optel. Rut het nie passief gesit en wag vir haar slegte omstandighede om te verbeter nie. Sy het besef dat sy die Here se genadige uitkoms nodig het, en sy het dit binne sy verbondsbepalings gaan soek. Die Here gee aan ons sy genade vanuit sy verbond. Ons moet dus in tye van nood steeds in gehoorsaamheid arbei, sodat ons versorg kan word. Ons moet uitkoms soek binne sy orde. Dit is die tipe vertroue waartoe die Heilige Gees ons lei. Dit is in aktiewe vertroue, wat die Gees ons ook verder leer van:
Die beskikking van die Here se genade
Rut het “gelukkig” op die landery van Boas beland. Dit beteken nie dat dit vanweë blote geluk was nie. Die Hebreeuse woord word meermale gebruik om God se almagtige beheer oor alle dinge uit te druk. Hy is in beheer van toekoms en verlede. Hy het dit ook so beskik dat Rut deur haar aktiewe vertroue op sy genade op Boas se land gaan werk het. So het die Here deur sy almagtige beskikking die weduwees tot uitkoms gelei. Ons kan dus ook vertrou dat die Here ons uiteindelike uitkoms sal gee deur sy genadige beskikking. Hy is immers vir ons ook ’n Vader. Hierdie genadige beskikking is deur sy Seun vir ons aan die kruis gekoop. In Christus is God se liefdevolle beskikking oor ons lewe geregverdig. Dit is as gevolg van sy intrede en genade dat alles vir ons ten goede kan meewerk. Ewige, onuitputbare guns en genade in God se oë is deur Hom vir ons gekoop. Vertrou dus op die genadige beskikking van die Here. Christus die ewige seën daarvan vir jou bewerk.