Lukas 1:5-25
‘Hy sal met die gees en krag van Elia voor die Here uitgaan om die harte van vaders na hulle kinders terug te bring, en ongehoorsames na die denkwyse van regverdiges, en só ‘n goed voorbereide volk vir die Here gereed te maak.’
Wees voorbereid as die volk van God
Binnekort vier ons Kersfees. Op die dag herdenk ons die geboorte van Jesus. Ons dink terug aan die gebeurtenisse wat jare gelede in Israel gebeur het. Lukas beskryf die geboorte van Jesus uitvoerig in sy evangelie. Maar die gedeelte wat ons vanoggend saamgelees het gaan hierdie gedeelte vooraf. In die eerste hoofstuk vertel hy die voorgeskiedenis. Hy vertel van die voorbereiding op die koms van Jesus. Voor die geboorte van Jesus, word die geboorte van Johannes die doper aangekondig. Voorbereiding is vir ons ‘n bekende woord. Dit beteken dat jy regmaak vir iets. Jy berei voor vir ‘n vergadering of vir ‘n toets. Jy berei voor vir ‘n praatjie of ‘n sportwedstryd. Dit beteken dat jy reg is vir dit wat kom. Jy is gereed. Die engel sê vir Sagaria dat die seun wat vir hom gebore sal word, die pad moet voorberei vir Jesus. Johannes die doper sal die volk voorberei om vir Jesus te ontvang.
Die mislukte volk van God
Lukas vat ons saam deur die lewe van Sagaria en Elisabeth. ‘n Harde lewe, ‘n lewe wat swaarkry ken. Tot ‘n sekere mate ‘n mislukte lewe. Dit lyk of hulle gaan oud word sonder ‘n nageslag. Die volk Israel sluit by die mislukking aan. In die tempel word daar nog offers gemaak, maar daar is maar ‘n handjie vol mense wat nog werklik op God vertrou en iets van Hom verwag. Na die laaste profeet in die Ou Testament, Maleagi, het daar ongeveer 500 jaar verbygegaan. In die tyd het geen enkele profeet namens God vir die volk geprofeteer nie. Dit is stil, die Israeliete is radeloos.
Die verhoorde volk van God
Sagaria bid in die tempel. Die Here gee antwoord. God weet wat nodig is. Hy onthou van sy beloftes. Hy hoor die gebed van die mislukte volk Israel. Hy skenk aan Sagaria ‘n seun met ‘n baie spesiale opdrag. Hy mag by die koms van Jesus ‘n belangrike rol speel. Hy mag Hom aankondig. Die engel praat van die geboorte van ‘n seun vir Sagaria en van Israel se verlossing. Die laaste woorde in die Ou Testament in Maleagi 4 sê die Here vir sy volk – ‘Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie.’
Die toegeruste volk van God
Johannes self was toegerus as profeet om die volk tot bekering te roep. Om hierdie rede is hy gebore as ‘n profeet, volgens die wette van die Nasareners. Die doel van Johannes se roeping word aan die einde van vers 17 genoem – ‘om só ‘n goed voorbereide volk vir die Here gereed te maak.’ Hy berei die volk voor deur hulle toe te rus. Deur hulle op te roep tot bekering. Sodat hulle reg is vir die koms van Jesus.