Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Skriflesing: Markus 9:1-10    Teksvers: Markus 9:2-3;     Sing: Psalm 89-1:8,11,14; Psalm 2-1:3,4,6; Psalm 45-1:2,3,12,14; Psalm 145-1:1,4,7,8.

Die Here het telkemale in die geskiedenis van sy kerk vir sy dienaars iets van sy heerlikheid gewys. Moses kon iets daarvan aanskou toe die Here verby Hom beweeg het. Elia het op ’n berg die stem van die Here in die gesuis van ’n sagte koelte gehoor. Elke keer het die Here sy heerlikheid baie naby aan sy kinders laat kom, om hulle vir die laaste deel van hulle taak toe te rus. In Markus 9 vind ons Christus dan reeds oppad na Jerusalem. Die skaduwee van die kruis word al hoe groter. Dan gebeur daar op die berg iets wonderlik, iets verskriklik. Skielik breek daar voor die oë van Johannes, Jakobus en Petrus ’n voorsmaak van die koninkryk deur. Vir Christus is dit die hemelse motivering vir die moeilikste deel van sy taak. Vir die dissipels, ’n skynsel van die heerlike koninkryk wat hulle eers heelwat later sou verstaan.

Sigbare Metamorfose

Christus klim saam met sy dissipels op ’n hoë berg. Dit is hier waar die Here die heerlike toekoms van die koninkryk sal vertoon. Dit is hier waar God sy heerlikheid en majesteit sigbaar sal maak. Dit sal in die hoogte wees, soos met Moses en Elia. Maar helaas vind ons hier geen heerlikheid wat verby Jesus en die dissipels beweeg nie. Ons vind ook geen gesuis van windstilte waarin die Here tot hulle spreek nie. Voor die oë van die dissipels vind daar ’n vlugtige metamorfose plaas. Die gedaante van Christus verander. Daar is nie sprake daarvan dat Christus vir iemand anders verruil is nie. Die gebeurtenis vind plaas “voor hulle oë”. In hulle Rabbi lê die krag van die Koninkryk. In Hom lê die heerlike toekoms van die Here se volk opgesluit. Wanneer hulle die dag verstaan wat hier gebeur het, sal hulle onstuitbaar wees in hulle roepingsywer. So is dit vir ons ook. Die ywer waarmee ons ons taak op aarde, ook ons taak in die kerk aanpak, hang grootliks af van ons begrip van Christus se sigbare metamorfose. Daarom moet ons ook hoor van:

Sy blinkende Kleed

In die evangelie volgens Markus lê die klem by Jesus se verandering in voorkoms by sy klere. Sy klere het van gewone klere verander na klere wat blink. Dit straal lig uit. Dit is ’n konkrete verklaring dat Christus werklik God is. Hy is die een wat omstraal is met heerlikheid. Sy voorkoms word koninklik. Sy klere blink maar dit word ook spierwit. Dit getuig van reinheid, heiligheid en heerlikheid. Dit is verder so wit soos geen bleiker op die aarde dit sou kon kry nie. Die hemelse oorsprong daarvan is dus duidelik. So lyk die voorsmakie van die heerlikheid wat op Christus se taak op aarde sal volg. Dit is die bemoediging wat Christus vir die res van sy taak op aarde ontvang. Dit is die prentjie wat sy dissipels op sal terugval wanneer hulle hul eie roeping sal uitvoer. So werk die Here met ons ook. Deur sy Woord en Gees wys Hy ons op die heerlike toekoms in Christus. Hy bring ons onder die indruk van Christus se heerlikheid. Dan besef ons dat sy heerlikheid ons lewensdoel is. Ons besef dat est ons hier daarvan beleef maar klein is in vergelyking met die heerlikheid wat kom. Dan besef ons dat die blink Môrester die tyding bring van die dagbreek.