Die diens kan op hierdie skakel regstreeks of agterna gevolg word.
Skriflesing: Romeine 3:21-31; 1 Timotheus 2:1-7 Teksverse: 5,6 Belydenis: HK Sondag 6 v&a 16-18 Sing: Ps. 46-1:1,4,6; Ps. 72-1:1,10; Sb. 1-1:1,7; Ps. 75-1:1,4,6.
‘Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense: die mens Christus Jesus, wat Homself as losprys vir almal gegee het, tot getuienis op die bestemde tyd.’
JESUS CHRISTUS – DIE MIDDELAAR TUSSEN GOD EN DIE MENSE
In die Kategismus gaan dit oor ons redding. En ook oor die Redder. Die vrae en antwoorde wat ons gelees het lyk soos ‘n goed geformuleerde redenasie. Sommige mense is nogal krities hierop. Kan daar oor so belangrik saak so saaklik oor gepraat word? Aan watter voorwaardes moet Hy voldoen? Kan ons as mense dit so logies beredeneer? Maak ons die Woord oop dan sien jy dat ons bely wat die Here aan ons bekendmaak. Saam met ons geloofsvoorouers bely ons wat die Here vir ons vertel oor ons redding. Oor hoe dit gebeur. Met woorde verduidelik ons hoekom juis Jesus Christus ons Redder is. Hoekom sy reddingsplan werk. En wat dit vir ons beteken. Nie om te bewys of dit gewerk het of nie. Deur die geloof is dit vir ons ‘n vasstaande feit. Ook probeer ons nie om dit met argumente te staaf nie. Inteendeel, hoe meer jy logies daaroor dink, hoe meer kom jy tot die besef, hoe verlore jy eintlik is. Hoe onmoontlik dit vir jou as mens is, om uit die situasie te kom. En hoe wonderlik is dit, dat daar tog ‘n Redder is. Alles behalwe vanselfsprekend. Ons redding is ‘n groot gebeurtenis. Daarom staan ons gereeld stil by die werke van Jesus Christus. Leef dit in ons gedagtes. Want in ons leef die sekerheid – Ek is gered. Ek leef tot in ewigheid. Nie uit my eie verdienste nie, maar deur die een Middelaar tussen God en die mense: die mens Christus Jesus. In Hom leef ek deur genade.
Ons staan met leë hande voor die Middelaar
Kan jy jouself red? ‘n Ware menslike vraag. Die meeste opvoeding en onderwys is hierop gerig. Selfstandigheid. Nie afhanklik wees nie. Jy moet op jou eie bene staan, jou eie probleme oplos. Kan ons onsself nie verlos nie? Red van die nood in die wêreld en van die las van ons gewete? Die antwoord is nee. Met leë hande staan jy voor die Here. Die rede: die mens het ‘n sondekloof tussen hom en God gemaak wat hy nie self kan oorbrug nie. Daar is ‘n skuld wat betaal moet word en hy kan dit nie betaal nie. As jou skuld elke dag net groter word, hoe kan jy dit aflos?
Ons hande word gevul deur die Middelaar
Deur die genade van ons Here Jesus Christus word ons hande gevul. Daar word vir ons sondes betaal. Aan God se eis word daar voldoen. Maar om vir die sondes te betaal moet die offer gebring word deur ‘n Persoon wat ware en regverdige mens en ware God is. Dit is ons Here Jesus Christus. Hy het die beker van toorn nie laat verbygaan nie. Aan die eis van die Vader word daar voldoen. Daarom sit ons vandag hier met gevulde hande. Oorstroom met die genade van God leef ons vir Hom met diepe dankbaarheid.