Skip to content
Menu

Die diens kan hier regstreeks of agterna gevolg word op hierdie skakel

Skriflesing: Esegiël 1        Teksvers: 28a       Sing: Ps. 108-1:1,2,3, Ps. 25-1:2,7; Ps. 9-1:7; Sb. 10-2 (Onse Vader); Sb. 18-7:1,2,9,10.

‘Die helder gloed rondom het gelyk soos ‘n reënboog wat in die wolke verskyn op ‘n reëndag. Dit is hoe die verskyning van die heerlikheid van die Here gelyk het.’

DIE HEERLIKHEID VAN GOD

Esegiël maak duidelik dat God eintlik onbeskryflik is. Hy is onvoorstelbaar. Anders as wat ons dink. Esegiël worstel self daarmee. Hy gebruik deurlopend woorde soos: ‘daar was iets soos’, ‘hulle het gelyk soos’, ‘hulle was soos’…Dit lyk of hy soek na woorde. Dit is moeilik om God te beskryf. Moeilik om presies te sê wie Hy is. Die woorde wat Esegiël gebruik stapel op. Hy gebruik meer en meer woorde om die heerlikheid van God te beskryf. Want dit het gelyk soos, maar dit was nie presies dit nie, dit is tog weer anders. Dit is vir ons ook goed om dit te besef as ons woorde gebruik vir God. Ons noem God ons rots, ons Vader, ons skuilplaas. Woorde om God makliker te kan verstaan. Dit is hoe Hy Homself aan ons openbaar. Maar dan is dit belangrik om te besef – Hy is Vader, maar ook soveel meer. Hy is verseker ons Rots, maar daar stop dit nie. God is altyd groter as ons woorde. Met ons woorde kan ons sy grootheid en almag nie omskryf nie.

Esegiël: God is sterk

Wie is Esegiël? Hy is ‘n man van 30 jaar uit. ‘n Priester, seun van Busi. In 597 v.C. is hy saam met ‘n klomp ander in Jerusalem gevange geneem en in ballingskap weggevoer. (2 Konings 24:14) Sy profesie begin in 593 v.C. Esegiël moet die volk vertel dat Jerusalem en die tempel verwoes sal word. Nie ‘n gewilde boodskap nie. Hiervoor gebruik die Here hierdie man. Esegiël se naam beteken: God is sterk. Die tema staan in hierdie ingewikkelde boek sentraal. In Esegiël word die woorde van Paulus in Efesiërs 2:5 ‘n werklikheid – ‘Maar God…het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings…saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos!’ So sterk is God dat Hy dooies lewend maak en sondaars vergewe en vernuwe. Esegiël se naam getuig hiervan. God is sterk. Sy naam is ‘n getuienis van gelowige ouers.

God se heerlikheid in die visioene

Die boek Esegiël begin met ‘n aangrypende verskyning van God. Esegiël sien wolke vol weerlig. Hy sien wesens wat lyk soos mense en met die gesigte van diere. Wanneer hulle beweeg, was dit soos die geluid van baie water, soos die stem van die Almagtige, die geluid van ‘n mensemassa, soos die geluid van ‘n leërmag. Dan is daar ook nog die groot wiele wat na alle kante toe kan beweeg, wat vol oë sit. Die indrukwekkendste is hy wat bo die wesens en die wiele op die troon sit. Hier sien ons God se uitstraling. Ons sien Hom in beweging. Hy kyk en Hy praat. Esegiël sien die heerlikheid van God.

Jesus Christus – die heerlikheid van God

Johannes skryf die volgende oor Jesus – ‘En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid.’ God se uitstraling, sy heerlikheid sien ons in Jesus Christus. ‘Hy is die uitstraling van God se heerlikheid.’ (Hebreërs 1:3)