Skip to content
Menu

Johannes 6:1-14,22-35

‘Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie.’

Jesus Christus die brood van die lewe

In die gedeelte wat ons saamgelees het, verduidelik Jesus vir die Israeliete wie Hy is. Hy sê vir hulle – ‘Ek is die brood wat lewe gee.’ Dit verstaan die mense nie. Hoe kan Jesus so iets sê? Wat beteken dit dat Jesus die brood van die lewe is? Vir party was dit selfs verkeerd dat Jesus so sê. Wie is hierdie man wat so van Homself praat? Hulle besef nog nie Hy is die Seun van God nie. Hulle weet nie Hy is die Redder nie. Dit probeer Jesus vir hulle verduidelik. Dit sien ons regdeur Johannes 6. Dit begin met die vermeerdering van die brode. ’n Groot skare het na Jesus kom luister. Hulle het nie kos gehad nie. Hulle het honger geword. Dan vermeerder Jesus die 5 brode en 2 vissies, sodat 5000 mans met hulle vrouens en kinders gevoed word. Daarna verlaat Jesus die skare. Sy dissipels gaan met die skuit die meer op. In die nag sien die dissipels Jesus loop op die water. Petrus het dit gesien en deur geloof ook gedoen. Toe hy begin twyfel het in die water gesink. Daarna het Jesus die storm tot bedaring gebring. Dit het sekerlik gesorg dat die dissipels nie skipbreuk ly nie. Die volgende oggend gaan soek die skare weer vir Jesus. Hulle wil meer sien. Dan sê Jesus vir hulle – ‘Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe….Ek is die brood van die lewe.’

Honger na die brood van die lewe

Die skare wat vir Jesus kom luister word honger. Deur ’n wonder voed Jesus hulle liggaamlik. Die volgende dag bring Jesus die aandag van die volk van dinge wat vergaan na dinge wat nie vergaan nie. Jesus probeer vir hulle verduidelik wie Hy is. Dat hulle ’n honger moet hê na redding. Hy verplaas die fokus van die tydelike brood na die ewige. Mense sonder God leef in geestelike hongersnood. Voordat jy vol kan word van Christus die lewende brood, moet jy besef dat jy honger is.

Versadig deur die brood van die lewe

Jesus vertel aan die skare presies wie Hy is. Hy sê vir hulle: ‘Ek is die brood van die lewe.’ In hierdie uitspraak van Jesus hoor ons wie Hy is. Ons besef as ons bid gee ons vandag ons daaglikse brood, dat dit soveel meer is as net liggaamlike voedsel. Soos wat God daar in die woestyn aan die Israeliete liggaamlike uitkoms gegee het. Dit deur die manna en kwartels. Net so red die Here ons uit ons geestelike nood. Ons geestelike honger word versadig deur Jesus Christus.