Die erediens kan hier regstreeks of daarna gevolg word.
Skriflesing: Johannes 13:21-38 Teksvers: Johannes 13:34 Sing: Ps. 93-1:1,2,3,4; Sb. 12-2:1,2; Ps. 22-1:1,3; Ps. 22-1:9,10,11; Sb. 2-4:1,2,3.
‘Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.’
WANT SO LIEF HET GOD DIE WÊRELD GEHAD
Op die aand voor die kruisiging van Jesus sit Hy saam met sy dissipels aan tafel. In ’n reeks van gesprekke berei Hy hulle voor vir wat die komende dae gaan gebeur. Hy gee vir hulle sy laaste onderwys. Die dissipels verstaan nie alles nie. Daar bestaan by hulle nog heelwat onduidelikheid oor Jesus se woorde. Judas is sopas uit die vertrek gestuur. Net daarvoor het Jesus aangekondig dat Judas Hom sal verraai. Die ander verstaan dit nie. Hulle dink dat Judas geld vir die armes gaan gee of benodighede vir die Pasga fees gaan koop. Jesus het Judas egter weggestuur om Hom te verraai. Hy het geweet wat in Judas se gedagtes aangaan. Judas het vol van Satan geword en het van Jesus af weggegaan. Jesus met die geselskap van die dissipels bly agter in die bovertrek. Hulle gaan verder met die maaltyd. Na hierdie bedrywige dag openbaar Jesus aan hulle die weg wat Hy moet volg. Deurdat Judas nou weggestuur is, het die begin van sy kruispad werklikheid geword. Die kruisiging en die offerdood is nou naby. Jesus wil hê dat sy dissipels dit verstaan. Hy vertel dat die tyd naby gekom het dat Hy hulle gaan verlaat. Dit verstaan hulle nie. Daarom vra Petrus: Here waarom kan ek U nie nou volg nie? Die weg wat Jesus moet volg, moet Hy alleen doen. Slegs Jesus kan dit doen, geen mens is waardig om dit te doen of om dit saam met Hom te doen nie. Hy moet alleen die band met die Vader herstel. Jesus het sy eie unieke pad, maar Hy toon ook aan wat ons rol is. Vir die dissipels en vir ons gee Hy ’n opdrag wat uitgeleef moet word. Dit staan in vers 34 – ‘’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.’
Die nuwe gebod in die lig van die kruis
Die gebod staan in die lig van die gebeurtenisse wat nou gaan plaasvind. Die gebod kry ’n nuwe dimensie omdat Christus Homself gaan opoffer. Nadat Judas die vertrek verlaat het, sê Jesus die volgende: ‘Nou is die Seun van die mens verheerlik, en God is in Hom verheerlik. As God in Hom verheerlik is, sal God Hom ook in Homself verheerlik en Hy sal Hom dadelik verheerlik.’ Dit het nag geword maar die grootheid van die Seun van die Mens straal alreeds. In dié twee verse word verheerliking 5 keer genoem. Die tyd het aangebreek dat die geskiedenis van die mens ‘n klimaks gaan bereik.
Onderlinge broederliefde
Die kern van die nuwe gebod is onderlinge broederliefde: ‘soos Ek julle liefgehad het, so moet julle ook mekaar liefhê.’ Dit is opmerklik dat Jesus hierdie gebod aan sy dissipels gee tussen twee merkwaardige gebeurtenisse. Jesus gee hierdie gebod tussen die verraad van Judas en die verloëning van Petrus. Broederliefde is voortaan die Christelike lewenswet.
In navolging van Christus
Wat beteken dit om Jesus te volg? Hierop gee Hy antwoord in vers 35. Soos Jesus liefhet, moet ons ook liefhê. Om Jesus te volg, beteken om te lewe volgens sy voorbeeld. ‘n Lewe van opoffering en diensbaarheid met die blik gerig op Hom en sy reddingswerk.