Lukas 24:36-53
‘Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem.’
GESEËND DEUR DIE SEUN AS SEËN VIR DIE WÊRELD
Dit is aangrypend om vir die hande van Jesus te kyk. Met sy Hemelvaart hef Hy sy hande op om sy dissipels te seën. Dit is die laaste wat hulle van Jesus sien. Geseën deur Jesus Christus. Hy wat hulle genade en vrede gee. Wat hulle geluk voor oë het. Dit is nie sonder rede dat die dissipels na die gebeure op die Olyfberg die Here Jesus eer en met groot vreugde na Jerusalem teruggaan. ‘n Groot dag die Hemelvaart van ons Here Jesus Christus. Want hiermee verander heelwat. Die Hemelvaart van Jesus moet ons nie sien in terme van ‘n ruimtevaart nie. Jesus het nie ‘n lang reis die ruimte in gemaak nie. Voor die oë van die dissipels is Hy in die hemel opgeneem. Handelinge 1:9 sê – ‘Toe Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle toekyk, en ‘n wolk het Hom uit hulle gesigsveld weggeneem.’ Opgeneem in die derde hemel. Daar waar die troon van God is. Die wolk waarvan ons lees is die Bybelse beeld van God se aanwesigheid. Wat wel met Jesus se Hemelvaart gebeur, is dat Jesus alle aardse ruimte syne maak. Voor sy Hemelvaart was Hy aan ‘n spesifieke plek gebind. Dit verander hier, oraloor is Hy aanwesig.
Geseënd deur Jesus Christus
‘Kyk na my hande en my voete, dit is Ek self! Vat aan my, en kyk – ‘n gees het nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en voete.’ (Lukas 24:39,40) Kort voor Jesus se Hemelvaart het die dissipels Jesus se hande gevat en gevoel. In sy hande is die wonde van die kruis sigbaar. Met die Hemelvaart word hulle geseën deur die hande van die Gekruisigde wat opgestaan het. Dit is wat hier gebeur. Jesus Christus, die Gesalfde Hoëpriester neem sy plek in die hemel in. Daarin gaan Hy ons voor. Hierin speel seën ‘n groot rol. Dit hou in dat God die goeie vir ons voor oë het – ons saligheid. Net soos Genesis is Hemelvaart ‘n nuwe begin. Dit begin met die seën van God.
Die inhoud van die seën
As Jesus seën, dan laat dit ons ook dink aan die hoëpriesterlike seën uit Numeri 6. Dit wat ons gereeld Sondae in die kerk hoor. ‘Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.’ In Efesiërs word ook beskryf wat die seën vir ons inhou. ‘Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel.’ (Efesiërs 1:3) Geestelike seëning behels dat jy vol liefde uitgekies is. Jy is voorbestem om God se kind te wees. Jy is verlos deur sy bloed. Jou sondes is vergewe. Genade is aan jou in oorvloed gegee. Jy het ‘n vaste hoop. Jy het die evangelie.
Geseënd om ander te seën
In verse 47 en 48 sê Jesus – ‘Julle moet by Jerusalem begin, en getuies van hierdie dinge wees.’ Met Hemelvaart word ons ook voor die vraag gestel: Hoe leef jy as geseënde kind van die Here? Word dit sigbaar dat jy geseënd is? Wat beteken dit vir mense om jou? As kinders van die Here staan elkeen van ons in die amp van die gelowige. Dien ons die Here as profete, priesters en konings. In navolging van Christus word die Here se seën sigbaar in hierdie wêreld deur die getuienis van sy kinders.