Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Lees: Galasiërs 3:1-14      Belydenis: HK Sondag 24      Teks: Galasiërs 3:5     Sing: Ps 66-1:1,2; Ps. 90-1:1,2,9; Ps. 91-1:6,8; Ps. 46-1:1,6.

‘Gee Hy dan vir julle die Gees, en verrig Hy kragtige dade onder julle, op grond van die uitvoering van die wet, of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het?’

DIE GOEIE WERKE VAN DIE GELOWIGES

Ons as kinders van die Here is regverdig voor Hom. Dit gebeur deur die werke van Jesus Christus. Hy ons Advokaat en Borg staan vir ons in. Dit is die enigste manier hoe ons weer tot God kan nader. Hoe ons saak met die Here reggestel word. Dit bely ons in Sondag 23. En nou in Sondag 24 kom daar driemaal ’n maar. Drie kritiese vrae wat direk die onverdienstelike genade aanspreek. Want het die mens nie hierby ’n rol om te speel nie? Dra ons goeie werke nie hiertoe by nie? In die Bybel word die goeie werke van die gelowiges beskryf. Hebreërs 11 praat van die geloofsdade, van mans en vrouens. Wat is nou die doel van ons goeie werke? Waarom roep God ons op om goed te doen? Beveel Hy ons dit in sy Woord? Is dit regtig nodig vir ’n christen, om dit te doen wat goed is, as hy tog al klaar gered is?

Die inhoud van goeie werke

Wat is goeie werke? Baie gelowe maak goeie werke ’n vereiste om ewige lewe te verdien. Genade alleen dring teen die grein van die menslike natuur in. Deur die sonde wil mense graag bydrae tot hulle redding. Ons goeie werke hou nie staande in die hemelse hof nie. Want selfs ons beste dade is besmet deur die sonde.

Die loon van goeie werke

Psalm 19:12 sê: ‘…in die onderhouding daarvan is groot loon.’ Daar is ’n loon vir ons goeie werke. Dit beskryf die Here in sy Woord. Nou in hierdie lewe mag ons as loon die seën van die Here ervaar. In die toekoms gaan ons werke met ons saam. Dit word beskryf in Openbaring 14:13 – ‘Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.’

Die rede vir goeie werke

Hoekom doen ons goeie werke? Uit dankbaarheid vir wat die Here vir ons doen. As jy besef dat Jesus Christus vir jou instaan. Al jou sondes op Hom neem. Dan kan jy nie anders as om ’n lewe van dankbaarheid te leef nie. Jakobus beskryf dit – ‘die geloof sonder werke is dood.’