Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Lees: Psalm 51 Belydenis: Heidelbergse Kategismus Sondag 20 Teks: Psalm 51:12,13 Sing: Ps. 100-1:1-4; Ps. 51-1:1,2,3; Sb. 10-2 (Onse Vader); Ps. 51-1:5,6,8.
‘Skep ‘n rein hart vir my, o God, vernuwe ‘n bestendige gees in my binneste. ‘Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u Heilige Gees nie van my wegneem nie.’
Die Heilige Gees die vernuwer van ons harte
Elkeen van ons bely elke Sondag hier in die kerk – Ek glo in die Heilige Gees. Dit doen jy in die geloofsbelydenis. Hierdie belydenis laat ons dink aan Pinkstersondag. Laasweek het ons dit gevier. Dit vat ons gedagtes terug na die dag wat die Heilige Gees op die aarde uitgestort is. Nadat Jesus gekruisig is en opgestaan het, het Hy na 40 dae opgevaar na die hemel. Tien dae later, word die Heilige Gees uitgestort. Soos ’n reënbui neersak op die aarde, daal die Heilige Gees neer. Die gelowiges in Jerusalem mog vol word van Hom. En van toe af was Hy daar in volheid vir sy kerk. Hierby sluit ons vanaand aan. Ons in Waterkloofrand is ’n gemeente wat regeer word deur die Gees. ’n Gemeente vol van die Gees.
In Sondag 20 bely ons wat ons presies glo van die Heilige Gees. Kort en kragtig. Oortuigend mag ons bely Hy is aan ons gegee. Aan die hand van Psalm 51 word ons klein en dankbaar vir die werk van die Heilige Gees. Hy wat in ons rein en bestendige harte skep.
Die persoon van die Heilige Gees
Om goed te verstaan wat die Heilige Gees doen, is dit belangrik om te weet wie Hy is. Saam met die Vader en die Seun is Hy ware en ewige God. Van die begin af was die Heilige Gees daar gewees. By die skepping het Hy oor die aarde gesweef en deur die loop van die geskiedenis was Hy altyd aanwesig. Ons hele saligheid is afhanklik van die Godheid van die Heilige Gees. Danksy Hom word ons klipharde sondige harte sag gemaak.
Die werke van die Heilige Gees
Dit wat die Heilige Gees doen is te veel om in een preek te beskryf. Een van sy voornaamste take is dat Hy geloof in ons harte bewerk. Dit is ’n groot voorreg om vol van die Gees te wees. Dan leef jy nie meer volgens wêreldse eise nie, maar leef jy ’n Geesbeheerde lewe. Met die Heilige Gees as jou hartsbesit leef jy jou lewe met God voor oë.