Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Lees: Psalm 105:1-15 en 42-45 Teks: Psalm 105:8,9 Sing: Ps 98-1:1,2; Ps. 69-1:1,3,8; Ps. 42-1:1,5; Ps. 23-1:3; Ps. 116-1; Sb. 1-2:1,2,3.
‘Hy onthou vir altyd sy verbond, die woord wat Hy beveel het, vir duisend geslagte, wat Hy gesluit het met Abraham en met ‘n eed beloof het aan Isak.’
GOD SE VERBOND IS EWIG
Psalm 105 is die lied wat sing van God se genadeverbond. Dit sing van die Here se genade vir ons. Dit jubel daarvan. ’n Pragtige lied. Hierdie lied is soos ’n testament. ’n Testament is vir ons ’n bekende saak. Daarin beskryf ouers meestal hulle erfenis. Dit wat hulle nalaat indien hulle die dag nie meer daar is nie. En ook aan wie dit toekom. Dit gaan oor wat kinders van hulle ouers ontvang. So werk psalm 105 ook. Hierin word die erfenis beskryf wat God vir ons gee. Dit is ’n besondere erfenis. Dit kry jy nêrens anders nie. Hierdie erfenis is dat ons aan die Here behoort. Die erfenis is dit wat Hy vir ons doen. Dat Hy ons red. In psalm 105 hoor jy dat die Here Israel keer op keer red. Hy het hulle gered toe hulle slawe was in Egipte. Hy het vir hulle ’n nuwe land gegee, waar hulle in vryheid kan woon. Waar hulle die Here in vrede kan dien. Hierdie redding gaan voort in die Nuwe Testament. Net soos wat die Israeliete uit die slawehuis van Egipte gered is, so word ons van die slawehuis van sonde gered. Dit deur Jesus Christus. Deur Hom word ons erfenis uitbetaal. Ewige verlossing van sondes. In Psalm 105 bevestig God dit vir ons. ’n Psalm wat gereeld by ’n doop gesing word. ’n Psalm wat fokus op die verbond van God. Hierdie testament, ontvang ons as ’n verbond. Vir hulle wat Hy uitverkies het, aan hulle gee Hy hierdie pragtige nalatenskap. Vandag word dit vir ons met die viering van die Heilige Nagmaal bevestig.
Die rykdom van die verbond
Koning Dawid jubel oor die dade van God in Psalm 105. Hy beskryf wat die Here alles deur die eeue heen gedoen het. Hy sing oor sy verbond. Dit is die belofte tussen God en ons. God het gesê Hy sal vir ons ’n God wees, en ons sal sy kinders wees. Dit is ’n groot belofte. Dat die Almagtige God belowe dat jy aan Hom behoort. Dat jy in ewigheid saam met Hom sal leef.
Die inlywing in die verbond
Vroeër was Israel die verbondsvolk. Vandag is dit nie meer so nie. Die verbondsvolk bestaan nie nou net meer uit een nasie nie. Mense van alle lande en uit alle volke deel hierin. Almal wat uitverkies is en glo in die Here is deel hiervan: deur Jesus Christus is ons in hierin ingelyf. Daarvan is die doop vandag ’n teken. Deur sy dade hier op die aarde en die genade van God die Vader is ons burgers van sy koninkryk. Met die nagmaal ontvang ons die teken van brood en wyn. Tekens wat ons herinner dat ons deel het aan die liggaam en bloed van Christus. Ons is ingelyf in die verbond.