Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Skriflesing: 1 Petrus 5:1-9      Fokusvers: 6        Sing: Psalm 48-1:1,2,4; Psalm 32-1:2,3; Psalm 81-1:11,12,15; Psalm 91-1:1,3,7.

God verhoog die nederiges op sy tyd!

God se hand is agter alles wat mens ons gebeur. Vir elkeen wat in die Here glo is dit ’n geweldige troos. Vir elkeen wat nie glo nie, ’n geweldige waarskuwing. Ons Skrifgedeelte roep ons op om dan juis in God te berus. Hierdie brief is geskryf deur die apostel Petrus. Dit is gerig aan verstrooide Christene in Klein-Asië, die hedendaagse Turkye. Hierdie Christene het toenemend druk van hulle volksgenote beleef oor hulle in Christus geglo het. Vir die heidendom was dit duidelik dat die Christene aan ’n hoër gesag as die Romeinse owerheid glo. Klaarblyklik was bespotting weens die geloof iets waarmee hierdie gelowiges gereeld te doen gekry het. Hierdie gelowiges het ook geweldig lyding deurgemaak. Daarom beveel Petrus:

Verneder julle dan onder die kragtige hand van God

Die Here se hand is in die Skrif deurgaans ’n beeld vir sy beskikking, sy bestuur van alle dinge. Sy hand is dan magtg oor alle dinge. Sy bestuur is nie maar een of ander vêrlangse bestuur nie. Sy hand is ook nie ’n hand wat beperk is in krag nie. Sy hand is almagtig. God se hand staan agter alles. Dit is die troos wat ons Skrifgedeelte wil bring. Ons moet op die uitkyk wees vir die Here se hand. Ons oë moet oop wees om die dinge wat met gebeur ons as die Here se bestuur sy beskikking te sien. Dan moet ons skuil onder sy hand. Ons moet ons nederig onder sy hand stel. As Vader rig sy hand die dinge wat met ons gebeur tot ons beswil. Dit is partykeer baie moeilik om te aanvaar. Maar die geloof wat die Heilige Gees in ons werk maak ons nederig. Hy maak ons oë oop om die hand van die Here in ons lewens raak te sien. Hy maak ons ook gewillig om ons onder die hand van God te stel.

Sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd

Die Here wil elkeen wat nederig onder sy hand skuil verhoog. Hy wil ons ophef uit ons ellende. Hy wil ons uit ons tragiese toestand oplig. Hy wil ons optel waar ons in ellende geval het. Wat hier staan is eintlik geweldig. Die implikasie van Petrus se woorde is dat die Here se hand na ons verhoging toe. Sy bestuur lei alle dinge daartoe om sy kinders te verhoog. Dit beteken dat Hy alle dinge bestuur om jou keer op keer in hierdie lewe uit jou ellende op te tel. Die verhoging van God se kinders sal dan ook vervul word as Christus weer kom. Dan sal die nuwe hemel en die nuwe aarde aanbreek. Die kinders van God sal finaal uit al hulle ellende opgelig word, want daar sal geen trane meer wees nie. Dit alles as gevolg van God se hand in Christus. Christus het uit louter genade om ons onthalwe Hom onder die kragtige hand van God verneder. En die Here Hom deur die Gees gelei om uiteindelik as mens gehoorsaam te wees tot die dood toe, die dood van die kruis. En aan daardie kruis, broer en suster, het Hy sy Vader se hand teen Hom gehad. En dit is verskriklik. Want ons het almal verdien om die Here se hand in ewigheid teen ons te hê. Ons verdien om deur die verskrikking van sy hand getref te word, en tog het dit vir Christus getref. Dit het Hom getref in ons plek. Maar, omdat Hy Hom om ons onthalwe tot op daardie diep en donker punt verneder het, het die Vader Hom ook verhoog.