Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
‘Jou tong beplan vernietiging, soos ‘n skerp skeermes, jy wat bedrog pleeg.’
Lees: 1 Samuel 22; Psalm 52 Belydenis: Sondag 43 Teks: Psalm 52:4 Sing: Ps 47-1:1,3,4; Ps 45-1:1,2; Ps. 19-1:7; Ps. 9-1:1,7,8,10.
Die krag van die tong
Jy mag nie valse getuienis gee nie. Waar ’n mens by van die gebooie diep moet dink hoe dit mens raak, is dit nie die geval by die negende gebod nie. Dit raak elkeen van ons so direk. Klinkklaar spreek dit jou aan. Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie. Dit gaan oor wat jy sê. Oor die woorde wat uit jou mond kom. Daarmee is jy heeldag besig. ’n Mens kommunikeer, jy praat honderde woorde elke dag. Nou toon die Here vir ons aan hoe ons dit moet doen, want in woorde sit krag. Met jou woorde kan jy baie verrig. Ten goede – Jy kan die Here loof en prys, mense om jou heen bemoedig en troos. Jy kan verhoudings bou. Met jou mond kan jy stigtelik en opbouend optree. Maar met jou mond kan jy ook verskriklike skade aangerig. Met woorde kan jy verwoes. Die vieslikste grappe vertel. Halwe waarhede oor mense versprei, wat die lewe vir hulle onuithoudbaar maak. Jy kan skel en skree. Daarom gee die Here die gebod. In hierdie deel van ons lewens het ons verlossing nodig. Op hierdie gebied is daar elke dag weer hervorming nodig. Ons plaas die fokus hierop. Op ons monde in diens van die Here. Uit ’n fontein kan immers nie brak en soet water uit kom nie.
Die kwesbaarheid van die ander
Die leuen is die middel waardeur die Satan wanorde saai. Deur woorde te verdraai trek hy kinders van die Here van mekaar af weg. In die optrede van Doëg en Saul word dit sigbaar. Dit is giftig en daarom verbied die Here dit in die negende gebod. Die Here verbied ons om in hierdie sataniese gebruik te deel. Skinderstories, kwaadstokery en ongegronde vooroordele pas nie by christenwees nie.
Die waarheid in Christus
Ons word opgeroep om in eerlikheid en opregtheid te lewe. Daarvan moet ons taal getuig. Dit gebied God in die gebod. Dit is taal van die wedergeboorte. In alles wat ek doen het ek die waarheid lief en is ek opreg in wat ek sê en bely. Dit is die nuwe mens wat vol van die Gees is.