Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Skriflesing: Habakkuk 2:18-20 Teks: 18-20 Belydenis: Sondag 35 Sing: Ps. 96:3,4,5; Ps. 86:4,6,8; Ps. 115:3,4,5,9; Ps. 99:1,2,3.
God is geen leuenleraar!
God wil in gees en in waarheid aanbid word. Dit vereis dat ons hom nie afbeeld nie. Afbeelding, met betrekking tot ons aanbidding kom altyd neer op ‘n leuen. Dit verkondig nie die werklikheid vir wat dit is nie. So is dit altyd met eiewillige Godsdiens. Dit is daarom dat ons in Sondag 35 bely dat God slegs aanbid mag word op die manier wat Hy beveel. Enige ander manier is ’n mistasting. Dit is ook die saak wat in ons Skrifgedeelte aangeraak word.
Die mens se leuenleraars
Ons Skrifgedeelte begin met ‘n retoriese vraag: Wat baat ‘n gesnede beeldhouwerk? Wat baat dit? Watter nut het dit? Dit het inderdaad geen nut nie. Dis die punt wat die Here hierso maak. ‘n Gesnede beeld het geen nut nie en daarvoor is daar baie spesifieke redes. Die eerste rede is sekerlik dat dit ‘n maker is wat sy eie maaksel vertrou. Dit is inderdaad ‘n maker wat sy insigte oor die werklikheid in ‘n beeld omskep en dit aanbid. Dit is nutteloosheid wat nie reg kan wees nie. Dit is maar net die projeksies van die kunstenaar se eie gedagtes. Dit sal niks baat om jou eie gedagtes oor wat God moet wees aan te hang nie. Die tweede gebod gaan dus oor meer as blote afbeelding. Dit stel dat ons aanbidding beheers moet word deur die Waarheid.Die Waarheid is alleen in wat God van Homself sê te vinde. Daarom leer ons Skrifgedeelte ook dat beelde of projeksies nutteloos is en dat die aanbidding wat die beelde betrek nutteloos is, omdat beelde altyd leraars van leuens is. Dit is verkondigers van leuens. Daar is net vals beloftes in dit wat in die bestaan van die beelde geleer word. Dis leuens. Die hele manier waarop ‘n afgodsbeelde tot stand kom verkondig eintlik niks anders as die mens wat dit gemaak het se subjektiewe verstaan van die werklikheid nie. Dit verkondig dit immers as iets om te aanbid. Daarom is die beloftes van die afgode vals en leeg.
Die ontsagwekkende Waarheid
Aan die einde van God se troos aan Habakkuk kom die finale woord: God is in sy heilige tempel. Nou kan ons vra: Hoe pas dit in by dit wat reeds gesê is? Wat het die tempel te doen met die afgodsbeelde wat pas veroordeel is? God vestig ons aandag op die ware erediens, teenoor die eiewillige valse erediens wat Hy sopas veroordeel het. Die Here se erediens, soos Hy dit rondom sy tempel ingestel het verkondig geen leuen nie, maar alleen die waarheid. Hy vestig ons aandag op die ware erediens, teenoor die eiewillige valse erediens wat Hy sopas veroordeel het. Die Here se erediens, soos Hy dit rondom sy tempel ingestel het verkondig geen leuen nie, maar alleen die waarheid. En daardie waarheid leer ons uiteindelik ken in Christus, die Beeld van die onsienlike God. Die ganse tempelerediens is bedoel om Hom vooruit te skadu. Die tempeldiens was die skaduwee van Immanuel. Christus is die feit van Immanuel.