Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Skriflesing: Numeri 20:22-29 Teksverse: 27, 28 Sing: Psalm 105-1:1,3,15; Psalm 51-1:3,4,8; Psalm 135-1:1,8,11; Psalm 110-1:1,5,6; Psalm 118-1:1,9,10.
Die dood van ’n naakte Hoëpriester
Die dood bring die mens voor die diepste lewensvrae te staan. So moes dit ook vir Aäron in die aangesig van sy dood gewees het. Die Here het sy lewe vroeg beëindig vanweë sy sonde. Maar die werk van sy priesterlike amp sou moes voortgaan. Sy dood sou hom beslis verhoed om self daarmee voort te gaan.
Die Here se oordeel oor Aäron
In ons Skrifgedeelte staan die volk op die grens van die land Edom. Die geslag wat in opstand gekom het moes eers uitsterf voordat die volk die beloofde land mog binnegaan. Nou is daardie geslag uitgesterf. Moses en Aäron is op pad na die beloofde land toe met die nuwe geslag. Aäron moet sterf voordat die Israeliete in die beloofde land kom. Hy mag as’t ware nie in die land ingaan nie. Dit is ’n verskriklike oordeel. Aäron was immers van die begin af by Moses om juis die volk beloofde land toe te bring. Sy lewenswerk is dus baie nou met die inbring in die beloofde land vervleg. Aäron was Israel se eerste hoëpriester. Hy was ’n ampsdraer. Sy hele ampsbediening was ingerig om die Here se heiligheid aan die volk te toon. Deur sy sonde saam met Moses het hy egter onheilig opgetree. Daarom straf God hom ook deur hom voor die oë van die volk sonder sy priesterkleed te laat sterf. Die Here maak hom as die Heilige bekend. Daarom sterf Israel se sondige hoëpriester sonder sy kleed.
Die Here se genade in Eleasar
Eleasar moet die hoëpriesterlike klere ontvang. Hy is sy pa se opvolger. Maar dit is opmerklik, broer en suster, dat die Here beveel het dat dit moes gebeur voor Aäron sterf. Dit is die genade dat hy met sy eie oë kon sien dat die priesteramp voortgaan. Die Here het hom steeds getroos deur hom te wys dat die volk nie nou sonder ’n hoëpriester sal wees nie. Daar sal steeds een wees wat vir die volk offers kan doen. Daar sal steeds ’n priester wees wat die volk aangaande die Here se wil sal leer. Daar sal steeds amptelik vir die Here se heiligheid geywer word. Die volk sal die Here steeds kan ken en in gemeenskap met Hom kan leef. So troos die Here dus vir Aäron op sy sterfbed. Hy wys vir hom dat daar voortgang sal wees. Hy wys vir hom dat die Godsdiens van God se volk nie nou sal eindig nie. Die Here sal dit instandhou. Maar die geslagslyn van Aäron sou nie sonde en dood kon ontwyk nie. Dit sou maar altyd daar bly. Die dood van Aäron roep dus eintlik na ’n priesterorde wat nie van fisiese opvolging in die geslagslyn afhanklik is nie. Dit roep dat die Here in sy genade ’n priesterorde sal gee wat groter is as die geslagte en sterker is as die dood. Hierdie priesterorde moet een wees wat nie oorgaan op ’n ander nie, maar wat vervul word in Een. Jesus Christus is die ewige priester volgens die orde van Melgisedek. Dit beteken dat soos die priesterskap van Melgisedek, Christus se priesterskap nie die Levietiese geslagslyn ingebind is nie. Dit word nie oorhandig nie. Christus is ewige Priester en Middelaar. En dit, nie omdat Hy die skande, dood en oordeel ontwyk het nie, maar omdat Hy dit gedra het.